Doen jou deel


In my vorige plasing, Bondgenoot van die Almagtige, het ek vertel hoe God sy deel van die Nuwe Verbond nakom. Nou is dit tyd om te kyk wat ons moet doen om ons deel van die verbond na te kom. Aangesien baie van my vorige plasings verband hou met die punte wat ek uitlig, het ek ook skakels na daardie spesifieke plasings ingevoeg.

So, wat staan ons te doen as bondgenote van die Almagtige? Wat maak ons anders as die wêreld?

Liefde

Dit is ʼn opdrag direk uit Jesus se mond: “Julle moet mekaar liefhê.”

En nie sommer net ʼn opdrag wat ons ligtelik kan opneem nie. Nee, Jesus noem dit ʼn nuwe gebod. Die grootste gebod. ʼn Wet. Daar was baie wette wat nagekom moes word onder die Ou Verbond. Onder nie Nuwe Verbond het ons net een wet wat ons moet nakom en dit is liefde (John 13: 34-35, Mark 12:30-31, 1 Cor. 13, Rom. 5:5).


Beywer jou vir God se koninkryk

“Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee,“ Mat. 6:33

Beywer jou… met ander woorde daar moet ywer wees in alles wat jy doen vir God. En nie net wanneer jy lus het nie. Die skrif sê jy moet jou “allereers” beywer. Dit beteken altyd eerste.

Jy moet dus altyd eerste, met ywer, vir God leef.

Sinonieme vir die woord ywer is: vasbeslotenheid, intensiteit, volharding, toewyding, passie. Dit is hoe jy moet voel oor die koninkryk van God.


Gaan verkondig
In Mat. 28:19 gee Jesus aan ons die opdrag: “Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees”

Dink ʼn bietjie hieroor… as die dissipels nie hierdie opdrag uitgevoer het nie, sou ons heel moontlik nie vandag geweet het van Jesus nie…


Nie meer jy nie, maar Christus
Dis reg ja, jy lewe nie meer nie. Jy is dood. Die nuwe jy lewe nou deur Christus.

“Iemand wat aan Christus behoort, is ʼn nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom.” 2 Cor. 5:17

“want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God.” Col. 3:3

Jy word weer gebore die dag as jy die keuse maak om vir Jesus Christus as jou Verlosser aan te neem (John 1:12-13, John 3:3, 1 Pet. 1:23).

Daarom moet jy, as teken van jou wedergeboorte en in gehoorsaamheid aan Jesus, jouself laat doop (Rom. 6:3-4, Mark 16:16, Mat. 28:19).

Dan moet jou gedagtes nuut word en moet jy lewe soos ʼn nuwe mens (Rom. 6:11, 1 Peter 1: 14-15, Rom. 12:2, Gal. 2:20).


Dra vrugte
Jesus het gesê: “My Vader word juis daardeur verheerlik dat julle baie vrugte dra en my dissipels is.” John 15:8

As nuwe mens, wat God se koninkryk altyd eerste plaas, moet jy ʼn vrugbare lewe lei tot die verheerliking van God. Sien jou woorde en dade soos sade wat in mense se harte geplant word. Sade wat gaan ontkiem en groei en ʼn oes gaan oplewer (Gal. 6:7-10, Luke 10:2, Ps. 126:6, Mark 4:29, 2 Cor. 9:10)


Bou aan jou verhouding met God
Iemand het eenkeer gesê: “Instead of saying: ‘I don’t have time’ try saying: ‘It’s not a priority’ and see how that feels”

Ons moet tyd maak vir God. Tyd maak vir bid, Bybelstudie en vir prys en aanbidding.
Ons tyd saam met God is die spil waarom alles draai. Dit is daar waar jy God ontmoet, waar die Gees jou leer en toerus, waar jy groei in jou geloof en waar jy rus vind vir jou siel (James 4:8, Heb. 4:16, Mat. 18:20, John 14:23, Phil 4:6-7)


Lewe deur die Gees
God se genade en liefde vir ons is so groot dat hy die Heilige Gees gestuur het om ons te help om ons deel van die verbond na te kom. Al wat ons hoef te doen is om die werking van die Heilige Gees te aanvaar en toe te laat in ons lewens.

Hy herinner ons aan Jesus se woorde, gee ons krag om te getuig, gee ons wysheid, rus ons toe vir ons taak en maak ons dapper (Gal. 5: 13-26, John 14:25-26, Acts 1:8, Acts 6:10, 1 Cor. 2:13, 2 Cor. 3:5-6, 2 Tim 1:7)

Hy help ons bid en gee aan ons gawes waarmee die Kerk van Christus opgebou en versterk word. (Rom. 8: 26, Rom. 12:6, 1 Cor. 12:28-31).




Mag jy elke dag in verbondenheid met Hom lewe, in Hom gewortel en op Hom gebou. Standvastig in jou geloof en vol dankbaarheid.

Dit is my gebed vir jou.

Liefde in Jesus
Madeleine


Alle aanhalings kom uit die Bybel in Afrikaans 1983-vertaling. Bybelgenootskap van Suid-Afrika
All images: Pixabay


Volg my op Facebook

Kontakvorm

Naam

E-pos *

Boodskap *

Gewilde plasings van hierdie blog

'n Brief aan my kind

Prysuitdeling

'n Brief aan Ma