Wortels

“Waar die hart van vol is, loop die mond van oor…” is nie net ʼn Afrikaanse spreekwoord nie. Dit staan in die Bybel (Mat 12:33-35). Dit is iets wat Jesus gesê het. En dit beteken meer as net mooi praat of vloek.

Jy sien, in jou hart lê die wortels. 

Goeie-boom-wortels, of slegte-boom-wortels. Dalk selfs al twee. Die probleem is net dat slegte-boom-wortels die geneigdheid het om goeie-boom-wortels te verdring. Hulle groei ook altyd weer uit. Selfs al word die slegte boom afgekap.

So eenmaal in elke drie of vier jaar, vaar ʼn span mense met kettingsae, die groenbelt langs ons huis in. Hulle doel? Om die Swartwattelbome uit te roei. Vir ʼn dag lank word daar gesaag en gekap en geswoeg en teen sonsondergang is die kloof uiteindelik skoon. Maar, daar is ʼn rede waarom hulle elke drie of vier jaar moet terugkom. Die bome is skaars af, of nuwe lote begin uit die stompe groei. Moet ook nie dink ʼn verwoestende veldbrand gaan hulle keer nie. Nee, dán groei hulle eers! Wat is die probleem? Die wortels sit nog in die grond.

Soms sit die wortels nog in jou hart. Die wortels van bitterheid, selfverwyt, jaloesie, oneerlikheid, onsedelikheid, verslawing, haat, geweld, vrees, ongeloof… dalk kan jy meer opnoem…

Jy het die boom nou al ʼn paar keer afgekap maar hy hou aan groei. Hy groei totdat jou mond daarvan oorloop en jou lewe die vrot vrugte dra. Dalk het jy al deur vuur gestap as gevolg van die boom. Maar hy kom sowaar weer uit. Jy verander van werk, van huis, van eggenote. Maar die boom steur hom nie aan habitat nie. Hy bly net groei.

Die wortel moet uitgeroei word.

Hoe?

Ek weet nie.

Maar, ek het beleef dat nét God, deur die werk van die Heilige Gees, slegte wortels in jou hart kan uitroei. En, ek kan jou verseker, as die Gees daardie slegte-boom-wortels uitgeroei het, is dit uit.  

Dan moet jy sorg dat die goeie-boom-wortels genoeg water en kos kry. Hulle moet so welig in jou hart groei dat geen slegte-boom-saadjie kan plek kry om ooit weer wortel te skiet nie. Die goeie boom sal groei totdat jou mond daarvan oorloop en jou lewe die goeie vrugte dra.

As jy ʼn weergebore kind van God is, deur in Jesus Christus as jou Verlosser te glo, dan is die Heilige Gees jou helper.


Al wat jy moet doen, is om Hom te vra.

Volg my op Facebook

Kontakvorm

Naam

E-pos *

Boodskap *

Gewilde plasings van hierdie blog

'n Brief aan my kind

Prysuitdeling

'n Brief aan Ma