'n Brief aan my kind
My liewe kind…
ʼn Nuwe emosie
het in my wakker geword, die eerste keer wat ek jou hartjie hoor klop het. Dit
is ʼn emosie wat ek nie voorheen gehad het nie, maar wat saam met jou groter en
sterker gegroei het. Nou is dit so deel van my dat ek nie kan onthou hoe my
lewe daarsonder was nie.
Verwondering.
Blydskap. Vrede. Verantwoordelikheid. Vrees. Nederigheid. Verbasing. Alles in
een.
Ek sou my lewe
vir joune ruil. En sal nog steeds.
Daardie eerste
keer wat ek jou warm asempie teen my wang gevoel het en jou pasgebore velletjie
geruik het, sal ek nooit in my lewe vergeet nie. Dit was op daardie oomblik wat
die nuwe emosie my hele wese oorgeneem het. Ek weet nou dis hier om te bly. Vir
so lank as wat ek lewe!
Al die ouerskap
boeke, al die toerusting en al die goedbedoelde raad was ewe skielik nie genoeg
nie. Jy is jy. Hulle kon nog nie oor jou skryf in enige boek nie, want jy was
nog nooit gewees nie. Op die ou end het ons geleer dat ons eie raad die beste
raad is, al was ons soms raadop.
Maar op ʼn
wonderbaarlike manier word kinders vanself groot en as jy weer sien staan daar
ʼn mens voor jou.
Dis vir jou, my
liewe klein mensie, aan wie ek hierdie brief skryf.
Ek wil hê jy
moet weet, ek staan elke dag stomgeslaan oor jou. Ek is nog steeds in
verwondering.
God het ʼn
unieke vlammetjie in jou hart aan die brand gesteek. Ek bid dat jy sal ontdek
waarvoor daardie vlammetjie is en hom aan die brand sal hou.
As jy eendag
terugkyk op jou lewe saam met my, hoop ek dat jy sal kan sê ek was altyd daar.
In jou eerste oomblikke, jou beste oomblikke en jou slegste oomblikke. Ek weet
jy sal nie alles onthou wat ek sê nie, maar wel hoe ek jou laat voel het. Ek
bid dat daar meer goeie as slegte gevoelens sal wees.
Vir jou veg ek
op my knieë. Vir beskerming en gesondheid. Vir guns. Vir die regte vriende, die
regte juffrou, die regte man. Vir jou siel…vir Jesus…vir ʼn koningkrykslewe…
Mag jy sterk
staan my liewe klein mensie. Mag jy stroomop swem as die stroom verkeerde
rigting gaan. Mag jy altyd jou kop hoog hou sodat jou kroon nie afgly nie. Mag
die vreugde van God jou krag wees.
Moet nooit
ophou om mooi dinge raak te sien nie. Glimlag altyd vir jouself in die spieël.
Dans en sing totdat jy hardop lag. Moenie dat enige iemand of enige iets jou
vrede steel nie. Praat heeltyd met God.
Daar gaan ʼn dag
kom wat jy gaan huil oor die lewe. Onthou dan net. Ons is in die wêreld maar
nie van die wêreld nie. Jesus het gesê ons sal dit moeilik hê. Maar hou moed,
Hy het die wêreld klaar oorwin. Bly net aan Sy kant. Altyd.
Daar gaan dalk
ook eendag ʼn wildernis wees waardeur jy moet stap. Onthou asseblief net om te
stap totdat jy uit is en nie daar agter te bly nie.
Daar gaan mense
wees wat jou gaan teleurstel, afbreek en seermaak. Onthou, liefde is ʼn keuse.
Vergewe, vergewe en vergewe. Dit maak jou vry.
Maar vir eers
is jy die klein mensie wat God vir my gegee het om groot te maak sodat jy die
mens kan wees wat Hy bedoel het jy moet wees. Ek sal elke oomblik van hierdie
voorreg koester.