'n Brief aan Ma




Liewe Ma…

Om vier kinders te kan groot maak moet ʼn mens hare op jou tande hê. Want elke kind is ʼn klein beginner-mensie. Dis moeilik genoeg om een beginner-mensie in die regte rigting te stuur. Hoe doen ʼn mens dit met vier?

So hierdie is ʼn dankie-sê-brief.

Dankie vir die Bybel stories en die kerk toe gaan. Dankie vir “Ek is ʼn kindjie klein…” gebedjies en “ons praat nie so nie” vermanings. Dankie vir die kerk kampe en my Bybel.

Dankie dat ma dáár was. Elke middag na skool gereed om met huiswerk te help en vir ure te sit en wag by naskoolse aktiwiteite. Dankie dat ons nie nodig gehad het om ooit vermaak op ander plekke as by ons huis te gaan soek nie. Daar was altyd iets om te doen naweke en vakansies. Dankie dat ons buite kon speel en in die ou wilgerboom kon klim. En die siek-dae…hoe baie keer het ek nie, noudat ek self ʼn ma is, gewens Ma kon my kom versorg as ek siek is nie!

Dan was daar verjaarsdae en Kersfees. Die spesiaal opgemaakte pakkies met spesiaal uitgesoekte geskenke. Die tema koeke op aanvraag. Ek weet nou nog nie hoe ma dit reggekry het om ʼn klavier-koek te bak nie!  

Die tienerjare moes ma heel onverwags betrap het. Skielik dink die beginner-mensies hulle weet alles en hulle ouers weet net mooi niks van die lewe af nie. Dankie dat Ma voet neergesit het en nee gesê het toe dit nodig was.

Dankie dat ons kon lees tot ons boeke klaar was en dat ons die eetkamer as kunsstudio kon gebruik. Dankie dat ek kon skryf die hele vakansie lank en op die klavier kon tokkel tot vervelens toe. Dankie dat ma ons geleer het om “van hoek tot kant” skoon te maak en op te ruim.

En asof die tiener jare nie erg genoeg was nie, daag die stormagtige jongmens jare skielik op! Die beginner-mensies moes nou hulle voete vind en rigting kry in die grootmens wêreld. Baie dankie dat Ma soos ʼn rots gestaan het om te keer dat ek met die verkeerde man trou. Dankie vir ʼn veilige nes totdat ons gereed was om te vlieg.  

Ek weet nie of ek ooit vir Ma gesê het hoe verlig ek was op die oggende wat ma voor my hek gestop het om te kom help bottel gee en doeke omruil nie. Dit was altyd die oggende wat ek gedink het ek kan nie meer nie. Dankie vir die baba-oppas-dae en speel soos net ʼn ouma kan speel.

Nou dat ek self ʼn ma is weet ek…

Daar was kere wat ma net in die bed wou bly. Daar was kere wat ma gehuil het sonder dat ons weet. Daar was gebede en gebede en gebede. Daar was kere wat ma nie wou aandete maak en kosblikke pak nie. Daar was kere wat bekommernis oor ons ma se hart in ʼn yskoue hand vasgedruk het.

So hierdie is ook ʼn jammer-sê-brief.

Jammer dat ek nie tóé geweet het wat ek nou weet nie. Jammer dat ek nie vir ma koffie in die bed gebring het op die dae wat ma siek was nie. Jammer dat ek nie genoeg dankie gesê het nie. En jammer oor enige hartseer wat ek veroorsaak het in my dom-astrantheid waarvan ek dalk nie eens bewus is nie.

Dis nie sommer enige mens wat kans sien vir vier beginner-mensies nie. 
Maar om al vier in die regte rigting te kan stuur en ʼn volpunte eindresultaat van vier goeie, opregte, suksesvolle grootmense te kan hê…dit vat ʼn baie spesiale mens. 

My ma.


Baie dankie.

Volg my op Facebook

Kontakvorm

Naam

E-pos *

Boodskap *

Gewilde plasings van hierdie blog

'n Brief aan my kind

Prysuitdeling