Kaalvoet deur die wildernis
My staptog deur die
wildernis het veertien jaar gelede begin...
Daardie dag toe ek, op my
verjaarsdag, gehoor het dat ek ʼn chroniese siekte het. Nee, ek gaan nie sê
watter verjaarsdag dit was nie, so maklik gee ek nie my ouderdom weg nie
(hehehe)!
Rheumatoϊde Artritis...
wat op aarde is dit? Ek het ook nie geweet nie. Later, in ʼn spesialis se
spreekkamer sou ek hoor dit is ʼn outo-immuun-siekte. Om een of ander rede
besluit jou immuunstelsel jy is die vyand en word jou liggaam aangeval. In die
geval van RA is dit jou gewrigte wat deurloop.
Was ek kwaad? Ja. Was ek
bang? Ja. Het ek myself jammer gekry? Vreeslik baie. Het ek gebid vir genesing?
Nee...
Hoekom nie?
Ek
is self nie heeltemal seker nie. Dalk het ek gedink dat dit nou maar my lot is
en klaar. Dalk was ek te kwaad vir God. Dalk het ek gedink dat ek seker maar
verdien wat my oorkom en dat ek oor een of ander groot sonde gestraf word. Ek
weet nie. Wat ek wel weet, is dat ek baie met God baklei het. Ek wou weet hoekom.
Hoekom ék? Jy sien, ek het aan witbroodjie-sindroom gelei en was diep
teleurgesteld dat so iets vir mý, die toonbeeld van voorbeeldigheid, moet oorkom.
Nou
weet ek egter beter....hoekom níe ek nie?
Ek
kry, na ʼn paar jaar in die wildernis, die boek The problem of pain deur C.S. Lewis in die hande. Sjoe! Met ʼn
woordeboek langs my het ek deur die hoogdrawende, outydse Engels geworstel en
so ʼn paragraaf per dag gevorder. Dit het maar stadig gegaan, want na elke
gedagte moes ek eers self bietjie dink of ek die man se gedagte reg verstaan.
Maar in daardie boek ontdek ek toe ʼn pad tussen deur die skerp klippe en warm
sand...
God
werk aan díe mense deur wie Hy wil werk.
Dink
ʼn bietjie hieroor... God het met die Israeliete gewerk in die wildernis.
Hoekom? Want Hy het ʼn plan met hulle
gehad. Was dit vir hulle lekker in die wildernis? Beslis nie. Maar dit was die
plek waar God met hulle gepraat het. Waar Hy hulle vertel het hoe hulle anders
kan wees as die ander volke. Dis waar Hy hulle heilig gemaak het. As jy ʼn kind
van die Here is, kan jy met sekerheid weet dat jy deur die wildernis stap omdat
God met jou wil werk.
Nog
iets wat ek baie vinnig besef het, is dat ʼn mens nie die wildernis sonder God
moet probeer deurstap nie. Moses het geweier om verder te gaan as God nie
saamgaan nie. Nee, die wildernis is nie grappies nie. As jy jouself ook nou in
ʼn wildernis bevind, is ek seker jy sal “amen!”
kan sê hierop.
So, hoe dan nou gemaak?
Moet ons nou maar net ons lot aanvaar en sirkels loop in die wildernis? Of mag
ons bid vir ʼn pad uit?
Ja, ons mag.
Hoe
weet ek dit? Want die Israeliete was op pad uit. Na ʼn beloofde land toe. Die oomblik
toe ek dit besef het, het ek begin bid vir genesing.
Een
aand het ek moedeloos gebid: “Here, hoe weet ek dat U ooit na my luister?” Die
volgende oggend in die kerk het ek myself skoon simpel geskrik toe die pastoor
reguit na my kyk en sê: “God hears every prayer you pray.”
Jy
in die wildernis... onthou...jy is op pad uit...
So
stap voort. Al is dit kaalvoet.
Die wildernis rondom Jerigo in Israel |