Onverklaarbaar

Ons hond kan glad nie verstaan waarom sy agter ʼn toe hek moet bly nie. Waarom ons haar aan ʼn halsband sit vir ons weeklikse stappies, waarom sy moet sit, lê, bly en los en waarom daar kort-kort ʼn uitstappie na die veearts moet wees nie. Nog minder kan sy verstaan dat al hierdie onverklaarbare dinge vir haar eie beswil is en dit omdat ons vir haar lief is.

Om die waarheid te sê, is amper alles wat ons doen vir haar totaal en al onverstaanbaar. Waarheen verdwyn ons elke dag? Waarom eet ons met ʼn mes en vurk en drink ons uit bekers en glase? Om watter rede dra ons klere en skoene? En wat sê ons vir mekaar? Dalk hoor sy kort-kort sit, lê, bly en los en wonder waarom ons nie mekaar se opdragte gehoorsaam soos wat sy doen nie.

Al hierdie dinge sal sy nooit kan verstaan nie, want, ons is verhewe bo haar. Ons manier van lewe is baie meer gevorderd as wat die slimste hond ooit sal kan wees.

Dalk dink jy nou by jouself dat ek uit idees uit gehardloop het vir my blog, want, dit is mos nou iets wat almal weet. Of, dalk besef jy waarop ek afstuur…

As ʼn hond, wat saam met ons in hierdie dimensie op hierdie tydstip op hierdie aardbol leef, ons nie kan verstaan nie. Wie is ons om te dink dat ons alles wat God doen moet kan verstaan?

Die blote bestaan van God is al klaar vir ons onmoontlik om te begryp. Hoekom wil ons dan altyd weet waarom God sekere dinge laat gebeur, hoe lank ons nog moet wag of waarom Hy soms nee sê?

God is God.

Nie net sy bestaan is onbegryplik nie. Die wonder van die skepping slaan ons asems weg. Sy almag is onbeskryflik. Sy liefde vir ons is amper te goed om waar te wees. Al dink jy baie mooi oor elke woord en al bedoel jy dit opreg uit die diepte van jou hart uit, sal jy nog steeds nie met menslike woorde aan Hom die lof en eer kan gee wat Hom toekom nie.

Hy is net eenvoudig te groot vir ons menslike verstand om te begryp.

As ek gaan sit en probeer dink aan God, regtig dink aan hoe groot en almagtig Hy is. Aan die heelal wat Hy geskape het. Aan die ewigheid. Dan besef ek dat ek eintlik maar ʼn baie klein idee het met Wie ek te doen het.

Een ding waarvan ek seker is, is Sy liefde vir my. Dalk het dit ook al met jou gebeur dat ʼn voëltjie perongeluk by die huis invlieg. Paniekerig begin hy dan heen en weer in die vertrek rondvlieg in ʼn poging om te ontsnap. Maar, die arme voëltjie het nie ʼn idee hoe om uit sy penarie te kom nie. Jy weet egter hoe. Jy weet waar die oop deur of venster is. So, uit die goedheid van jou hart probeer jy om die voëltjie in die regte rigting te laat vlieg deur hom in die regte rigting te probeer jaag, of, as jy dapper genoeg is, hom te vang en vry te laat. Ongelukkig veroorsaak dit net meer paniek by die arme dier wat glad nie weet dat jy hom net wil help om vry te kom nie. As jy maar net in ʼn voëltjie kon verander…dan kon hy jou verstaan en kon hy jou volg na vryheid…

Dit is wat die Almagtige vir ons gedoen het. Selfs nog meer. Dit is die liefde wat ons nooit ten volle sal kan begryp nie.

So, Hy is nie net ver verhewe bo ons nie. Hy is nie net onbegryplik groot en almagtig nie. Hy is ook onverklaarbaar lief vir ons. Hy sien baie meer en weet baie meer as ons. God beloon geloof. Mense sê altyd: “sien is glo.” Maar, met God werk dit anders, Hy sê: “glo is sien.” En daarvan kan ek getuig.

Daarom moet ons ophou vra waarom en Hom net vertrou.


Hy is God. 

Volg my op Facebook

Kontakvorm

Naam

E-pos *

Boodskap *

Gewilde plasings van hierdie blog

'n Brief aan my kind

Prysuitdeling

'n Brief aan Ma