'n Lening aan God
Mense raak vinnig
ongemaklik as hulle gevra word om te gee. Kollekte, bydra, tiende, offerande,
watter term ook al gebruik word, moet tog net nie te veel daarop hammer nie.
Dit is die tema wat predikers gewoonlik met groot versigtigheid aanpak of liefs
vermy. Tydens ʼn vyf jaar studie, wat sy hoogtepunt in 2013 bereik het, is bevind
dat slegs 10-25 persent van families in ʼn gemeente hulle tiendes gee.
Tog is daar amper
2000 verwysings in die Bybel oor die onderwerp van gee. Jesus het meer daarna
verwys as na geloof en gebed saam. So wat is dan die probleem?
Daar is blykbaar twee
hoof redes waarom mense nie gee nie. Die grootste van die twee is dat mense nie
weet waarom hulle moet gee nie. Is tiendes en offerandes nie net op die Ou
Testament van toepassing nie? Die tweede rede is dat mense bang is hulle gaan
verlies lei as hulle van hulle geld of besittings weggee. Hulle is bang hulle kan
dit nie bekostig nie.
Daarom het ek besluit
om in die Bybel te gaan soek vir antwoorde op hierdie twee vrae.
Hoekom moet ek
gee?
Die antwoord hierop
is eenvoudig. As kind van God, is dít wat van jou verwag word.
In 1 Joh. 3:17
word die vraag gevra: “Wie aardse besittings het en sy broer sien gebrek ly,
maar geen gevoel vir hom het nie – hoe kan die liefde van God in hom wees?”
Wat is dit wat
kinders van God te doen staan? “Is dit nie dat jy vir dié wat honger is, van
jou brood gee nie, dat jy aan die armes en die dakloses ʼn blyplek gee nie, dat
wanneer jy iemand sonder klere sien, jy vir hom klere gee nie, dat jy jou
medemens nie aan sy lot oorlaat nie?” (Is. 58:7)
Die eerste kerk
het hierdie konsep goed verstaan, “Nie een van hulle het gebrek gely nie, want
dié wat grond of huise besit het, het dit verkoop en die verkoopprys daarvan
gebring en vir die apostels gegee. Dié het dit dan uitgedeel volgens elkeen se
behoefte.” (Acts 4:34)
Jesus het gesê
“want ek was honger, en julle het My iets gegee om te eet; Ek was dors, en
julle het My iets gegee om te drink; Ek was ʼn vreemdeling, en julle het My
gehuisves; Ek was sonder klere, en julle het vir My klere gegee; siek, en julle
het My verpleeg; in die tronk, en julle het My besoek,” met die verduideliking
dat dit is asof jy aan Hóm gee wanneer jy aan behoeftiges gee. (Mat. 25:35)
So, dit is
duidelik dat God se kinders moet sorg vir minder bevoorregtes. Maar, wat dan
van tiendes en offerandes aan die kerk? Het dit nie weggeval met die nuwe
verbond nie?
Kom ons kyk eers waar
kom dit vandaan…
Die eerste tiende
is deur Abraham aan Melgisedek gegee in Gen. 14:20. Later, in Gen. 28:22, het
Jakob aan God ʼn tiende van sy opbrengs belowe. Die gee van tiendes en offerandes
is deur Moses as wet van God ingestel en was bedoel om die priesters, Leviete, weduwees,
weeskinders en vreemdelinge te onderhou (Lev. 27:30, Num. 18:21, Deut.
14:28-29). Die Leviete moes ʼn tiende van hulle tiendes aan die tempel gee (Num.
18:26).
Ons sien dus dat ʼn
tiende van die Israeliete se opbrengs aan God behoort het. In Mal. 3:8 vra die
volk: “Waarvan beroof ons U?” en die antwoord is, “Van tiendes en offergawes.
Daar rus alreeds ʼn vloek op julle en tog bly julle my beroof; die hele nasie
doen dit. Bring die volle tiende na die voorraadkamer toe sodat daar iets te
ete in my huis kan wees.”
Maar, dit was tog ʼn
Ou Testamentiese wet, die tiendes was bedoel om die Leviete te onderhou
aangesien hulle lewens aan werk in die tempel gewy was en hulle geen grond
besit het nie. Hoe is dit nou op ons van toepassing? Is daar enige verse in die
Nuwe Testament wat daarop dui dat ons nog tiendes moet betaal?
Die antwoord is,
ja, daar is.
Die belangrikste
een is sekerlik Mark 12:17. Die Fariseërs het mense na Jesus toe gestuur met ʼn
strikvraag. Moes daar aan die keiser belasting betaal word? Sou sy antwoord ‘ja’
wees, het Hy die Israeliete kwaad gemaak. ‘Nee’, sou weer die Romeine op sy
spoor gesit het. Jesus se antwoord haal egter die wind uit hulle seile uit:
“Gee dan aan die keiser wat aan die keiser behoort, en aan God wat aan God
behoort.”
As Fariseërs het
hulle baie goed geweet wat dit is wat aan God behoort het. Dit was hulle tiendes.
Paulus het aan die
Korintiërs geskryf: “Weet julle nie dat dié wat tempeldiens verrig, uit die
tempel lewe en dat dié wat die altaar bedien, uit die offers hulle deel ontvang
nie? So het die Here ook bepaal dat dié wat die evangelie verkondig, hulle
lewensonderhoud uit die verkondiging van die evangelie moet ontvang.” (1 Cor.
9:13-14) Paulus hét dan ook finansiële ondersteuning van gelowiges ontvang
(Phil. 4:15-18), maar hy het egter gekies om nie op hierdie voorreg aanspraak
te maak nie, en in sy eie lewensonderhoud te voorsien (1 Cor. 9:15).
Ons lees op
verskeie plekke in die Nuwe Testament dat gelowiges geld gestuur het aan die
die gemeente in Judea (Jerusalem en omgewing) (2 Cor. 8:4-5, Gal. 2:10, Acts
11:29-30).
As kinders van God
word dit dus ook van ons verwag om aan die kerk te gee en ʼn bydra te lewer vir
die verkondiging van die evangelie. Ons moet dus nie net vir minderbevoorregtes
gee nie, maar ook vir die Koninkryk.
Kan ek dit
bekostig om te gee?
Ja, jy kan, want
“Wie hom oor ʼn arm mens ontferm, gee ʼn lening aan die Here, en Hy sal hom ten
volle vergoed.” (Prov. 19:17) en “Gee, en vir julle sal gegee word: ʼn goeie
maat, ingestamp, geskud en propvol, sal hulle in julle hande gee.” (Luk. 6:38)
“Vereer die Here
met offerandes uit al wat jy besit en met die beste uit jou oes, dan sal jou
skure oorvol wees en jou parskuipe oorloop van die wyn.” (Prov. 3:9)
“Gee vryelik aan
jou broer wat arm is, en moenie sleg voel omdat jy vir hom gegee het nie, want
juis omdat jy vir hom gee, sal die Here jou God jou voorspoedig maak in alles
wat jy doen en aanpak.” (Deut. 15:10)
“Bring die volle
tiende na die voorraadkamer toe sodat daar iets te ete in my huis kan wees, en
toets My hierin, sê die Here die Almagtige. Toets My of Ek nie die vensters van
die hemel vir julle sal oopmaak en vir julle reën sal uitgiet, meer as wat
julle kan gebruik nie. Ek sal die sprinkane keer dat hulle nie die oes op julle
land vernietig nie, en dat julle wingerde nie sonder vrugte is nie, sê die Here
die Almagtige.” (Mal. 3:10-11)
As ek hierdie
verse lees, dan lyk dit vir my asof ons eerder moet vra: “Kan ek dit bekostig
om nié te gee nie?”
Die goeie nuus is
dat jy nie meer hoef te gee as wat jy kan nie. God kyk na jou hart. Die arm
weduwee het slegs twee muntstukkies in die offergawekis gegooi, maar Jesus het
geweet sy gee meer as die ryk mense wat baie geld ingegooi het (Mark. 12:41-44).
Hy het gesê as jy armes help moet jou linkerhand nie weet wat jou regterhand
doen nie, jou Vader wat sien wat verborge is sal jou wel beloon (Mat. 6:3-4).
Paulus het
geskryf: “Elkeen moet gee soos hy hom in sy hart voorgeneem het, nie met
teensin of uit dwang nie, want God het die blymoedige gewer lief. En God is by
magte om aan julle alles in oorvloed te skenk, sodat julle in alle opsigte
altyd van alles genoeg kan hê en volop kan bydra vir elke goeie werk.” (2 Cor.
9:7-8)
Deur te gee maak
jy vir jouself skatte in die hemel bymekaar (Mat. 19:21, Mat. 6:19-21, Luk.
12:33-34).
Deur te gee is jy
gehoorsaam aan God se Woord.
Deur te gee neem
jy ʼn geloofstap en maak jy jou lewe oop vir die beloftes van God wat daarmee
gepaard gaan.
Maar die belangrikste
rede van alles… deur te gee ervaar mense God se liefde deur jou en bewys jy jou
dankbaarheid teenoor ʼn God wat alles gegee het…
So, gee met liefde
en uit dankbaarheid.
God sal vir jou
sorg.
©Alle aanhalings in hierdie plasing kom uit die Bybel in
Afrikaans 1983-vertaling. Bybelgenootskap van Suid-Afrika
All images: Pixabay