Herders
“Herders op die ope velde, het die nag
die eng’lekoor, met die blye evangelie, uit die hemel aangehoor…”
Hoekom juis die
herders? Hoekom nie “die hoëpriester daar in die tempel, het die nag die eng’lekoor…”
of “die baie geleerde fariseër” of “koning Herodes op sy troon…” nie?
Dit was immers ʼn
baie belangrike gebeurtenis vir die Jode. Die koms van die Messias. Van geslag
tot geslag is die verwagting oorgedra. Die skrifgeleerdes en fariseërs en hoëpriesters
het die geskrifte bestudeer, gesorg dat hulle al die wette haarfyn nakom en
gewag vir die koms van die Messias.
Waarom het God
dan besluit om die groot nuus met herders te deel en nie met die
godsdienstigste fariseër of die mees geleerde skrifgeleerde nie?
Wie was die
herders dan nou eintlik?
Wel, hulle was
nie vreeslik belangrik nie. Hulle was die ouens wat wind en weer moes trotseer
om ander se skape op te pas. ʼn Mens hoef nie baie geletterd te wees om dit te kan
doen nie. Daar is op hulle neergesien. Hulle was dienaars.
Hoe sou ʼn
moderne herder gelyk het? Dalk soos ʼn motorwag?
Kan jy jou
voorstel? Daar sit ʼn groepie niksvermoedende herders om ʼn vuurtjie en nonsens
praat en grappies maak en ewe skielik vertel ʼn asemrowende engel aan hulle dat
die grootste gebeurtenis in die geskiedenis van die mensdom sopas plaasgevind
het. Dit waarvoor hulle volk vir baie eeue al wag en wat die wêreld vir altyd
sou verander. En asof dit nie genoeg is dat hulle die eerstes is om díe nuus te
hoor nie, het hulle dan sommer die voorreg om te sien hoe bly die engele
daaroor is. Hulle ervaar wat geen lewende mens nog ooit het, of ooit weer gaan
ervaar nie…‘n engelekoor wat God prys. Wat ʼn voorreg.
Wie was die
herders?
In mense se oë
was hulle ongeletterde, onbelangrike mense wat maar buite in die veld kon
slaap. Maar, in God se oë was hulle belangrik genoeg om die grootste nuus
eerste te hoor en ʼn vertoning te sien wat niemand voor kan betaal nie.
Wie is ek dan
om te besluit party mense is nie belangrik genoeg nie? Wie is ek om die waarde
van mense te meet aan hulle kwalifikasies, posisies of rykdom? Wie is ek om op
mense neer te kyk omdat hulle dienaars is en nie leiers nie?
God het daardie
nag die herders behandel asof hulle die belangrikste mense is wat nog ooit
geleef het.
Het ek al ooit ʼn
motorwag behandel asof hy die belangrikste mens is wat nog ooit geleef het?
Dalk is jy die
een op wie neergesien word. Dalk is jy die onbelangrike een. Die dienaar. Dalk
voel jy nie veel werd nie. Onthou, God kyk nie na jou soos wat mense kyk nie.
God sien Sy unieke, spesiale skepsel.
Hy weet presies
hoeveel hare op jou kop is.
Jy is belangrik
genoeg vir Hom…