'n Hoopvolle begin

Ek wonder partykeer waarom mense nou juis die begin van ʼn nuwe jaar vier. Waarom bly ons wakker tot middernag toe, net om te kan se: “Voorspoedige Nuwejaar!” en ʼn glasie te klink?

Dalk het dit baie met hoop te doen. Ons hoop dat hierdie jaar beter as die vorige een sal wees. Voor ons lê drie honderd vyf en sestig nuwe dae. En, as ek dit nie mis het nie, is 2016 ʼn skrikkeljaar, so ons kry sommer nog ʼn ekstra dag by! Enige iets kan in drie honderd ses en sestig dae gebeur. Maar, ons huil nie daaroor in die middernagtelike ure nie… ons juig daaroor en wens mekaar voorspoed toe.

Dit is hoop.

Ons maak die keuse om dit ʼn beter jaar te maak want ons stel Nuwejaarsvoornemens op. Ons hou van nuut begin. ʼn Nuwe blaadjie omslaan. ʼn Kans om weer te probeer. Ek dink God het aan ons ʼn wonderlike vermoë gegee. ʼn Geskenk, naamlik, die vermoë om te vernuwe. Jy hoef nie om en om in dieselfde groef te loop jaar na jaar nie. Jy kan, met God se hulp, uit daardie groef klim en ʼn nuwe pad loop. Dalk meer gesonder leef. Dalk jou huis opknap. Dalk daardie vlammetjie wat al amper versmoor het weer aanblaas en dít doen wat jou laat glimlag.

Of miskien het jy nodig om in hierdie jaar die belangrikste keuse van jou lewe te maak en sommer ʼn hele nuwe mens te word. As jy nou nie heeltemal seker is waarvan ek praat nie, lees sommer dadelik Johannes 3:3-8, Romeine 10:9-10, Titus 3:5-7, Hebreërs 10:19-20 en 1 Petrus 1:3.

In 2015 was daar goeie dinge en minder goeie dinge. Daar was wonderlike oomblikke en dan was daar oomblikke wat vergewe en vergeet moet word. Daar was eerste treë en laaste treë en groot besluite wat sommer ʼn reuse tree uit die groef uit is! Hierdie jaar wat voorlê is die eerste van ʼn nuwe seisoen in ons lewens. Dankie tog God is klaar daar!

My hoop is in Hom.

Dalk is dit ook ʼn nuwe seisoen vir jou. Geniet die avontuur! Of, dalk besef jy dat daar heelwat vernuwings moet plaasvind hierdie jaar. Onthou om daaroor te bid.
Wat ook al jou omstandighede… mag jy aan die einde van 2016 terug kyk en sê: “Ek het nie tevergeefs gehoop nie.”

Voorspoedige Nuwejaar!



Volg my op Facebook

Kontakvorm

Naam

E-pos *

Boodskap *

Gewilde plasings van hierdie blog

'n Brief aan my kind

Prysuitdeling

'n Brief aan Ma