Brood van die lewe
C.S
Lewis het gesê: “You don’t have a soul. You are a Soul. You have a body.”
Ek het
onlangs die boek, 90 minutes in heaven, deur Don Piper, gelees. Hy het ʼn baie
ernstige motorongeluk oorleef nadat ʼn dominee in die wrak van sy motor geklim
en vir hom gebid het. Hy was eintlik reeds dood, maar die dominee se gebed het
hom uit die dood uit terug gebring. In die boek vertel hy wat met hom gebeur
het tydens die negentig minute waarin hy dood was. Hoe hy vriende en familie
wat reeds oorlede was gesien het en hoe asemrowend die hemel is.
Ja, ek
weet wat jy dink. En dis goed so. ʼn Mens moet maar altyd bietjie skepties oor
sulke stories wees. Ek het ook al baie van hulle gelees wat my hardop laat lag
het.
Maar,
daar is ʼn egtheid aan hierdie verhaal wat jou kritiese stemmetjie stil maak.
In die
boek maak Don Piper ʼn stelling wat my goed laat nadink het. Hy sê: “I felt as
if I had never seen, heard, or felt anything so real before. Never, even in my
happiest moments, had I ever felt so fully alive.” En op ʼn ander plek: “Think
of the worst thing that’s ever happened to you, the best thing that’s ever
happened to you, and everything in between. Heaven is more real than any of
those things.”
Ons
praat van realiteit. Alles wat ons met ons sintuie kan beleef is eg. Vandaar
die sê-ding “Knyp my, ek wil seker maak ek is wakker.” Solank die natuurwette
nagekom word, is dit eg. Maar hier beweer Don Piper dat die hemel vir hom meer
realisties as sy lewe op aarde gevoel het en dat hy nog nooit so lewendig
gevoel het as toe hy eintlik dood was nie…
Waarom
het Jesus gesê “Ek is die brood wat lewe gee”? Waarom het Hy gesê: “wie van die
water gedrink het wat Ek hom sal gee, sal in alle ewigheid nooit dors kry nie”?
Ons weet Hy het nie van ons fisiese liggame gepraat nie. Ons weet Hy het nie
van regte brood en regte water gepraat nie.
Jy
sien, Hy is die een wat ons geskape het wat ons is…’n siel met ʼn liggaam.
Deesdae
word groter pogings aangewend om ons liggame gesond te hou. Mense raak al hoe
meer bewus van dinge wat ons liggame skade aandoen en elke nou en dan is daar
die een of ander wonderlike dieet wat van jou die gesondste, mooiste lyf ooit gaan
maak. Niks fout daarmee nie. Ons moet tog mooi kyk na hierdie tente van ons, soos
wat Paulus dit noem. Maar, ek kan nie help om te wonder of ons nie dalk die
groter prentjie mis kyk nie.
Dit lyk
amper vir my asof hier in twee rigtings beweeg word. Hoe meer passievol ons oor
ons liggame raak, hoe minder passievol raak ons oor ons siele. Ons word nie net
gebombardeer met gesonder idees vir ons liggame nie, ons word ook al hoe meer
sielsgif gevoer.
Skakel
maar net die TV aan as jy wonder of ek nou die kluts kwytgeraak het. Gaan kyk ʼn
bietjie watter flieks wys. Watter boeke is top verkopers. Hou jou oor op die
grond en luister wat word ons kinders geleer oor monsters, hekse en vampiere.
Hoeveel mense gaan nog met die Bybel onder die arm kerk toe? Die Bybelverse
word mos nou mooi groot daar op die bord gegooi. Is dit regtig nodig om seker
te maak dit staan wel so in die Bybel?
Ons is
baie besorgd oor wat ons liggame gevoer word. Maar, dalk is jy anoreksies omdat
jy nie jou daaglikse brood inkry nie.
In die Middeleeue
is daar blykbaar net elke ses maande gebad. Ons weet nou ons moet elke dag bad.
Maar, dalk is jy nog vuil teen die tyd dat jy by die hemel se hekke wil instap,
omdat jy nooit skoongewas is met die bloed van die Lam nie.
Die
ewigheid is ʼn lang tyd om verkeerd te wees.
Ons
raak moedeloos as dinge nie uitwerk soos wat ons dink dit moet uitwerk nie. Ons
raak benoud as ons die nuus lees en dan vlug ons na groener gras. Ons jaag deur
ons lewens en werk onmenslike lang ure om skuld af te betaal. Skuld wat ons
maak sodat ons die lewens kan leef wat die samelewing sê ons moet leef. Ons
dink hierdie wêreld is al wat daar is. Maar ons kyk die groter prentjie mis.
Wanneer
laas het jy stil gesit en ordentlike brood geëet?
Waarmee
voed jy jou siel?