Kom ek vertel vir jou 'n storie...

 "Vertel vir my 'n storie, asseblief!"

Ek is seker daarvan al die mammas en pappas, wat hier lees het al daardie woorde gehoor. Kinders hou van stories. Hulle hou van stories lees, stories hoor, stories kyk, stories vertel. 

Om die waarheid te sê, die beste manier om moeilike konsepte aan kinders - en grootmense - te verduidelik is met behulp van 'n storie. 

Omtrent vyf jaar gelede het ek dus besluit om 'n kinderboek te skryf. Die boek se naam was Skaperjolle en het gehandel oor twee skapies, Sonia en Timmy, wat deur hulle elke dag se kaperjolle nuwe konsepte leer oor die Vrug van die Gees. 

Vir jare lank het hierdie boek egter vergete gebly op my rekenaar se hardeskyf. Van kinderboeke publiseer het ek niks geweet nie en kontakte het ek ook nie gehad nie. Dit was 'n groot berg voor my. Waar kry ek illustrasies vir die boek? Hoe doen ek die uitleg? Waar laat ek dit druk?

Al hierdie vrae - en nog 'n paar waarvan ek oorspronklik nie geweet het nie - se antwoorde het egter so stuk-stuk na my toe gekom deur die Here se leiding en toe ek weer sien sit ek met die boek in my hande!

Omdat die boek opgedra is aan al die kinders van ons familie, waarvan my susterskind Engels is, en ook om meer mense te bereik, het ek besluit om die boek in Engels uit te gee as Little Lambs Learning about Fruit of the Spirit.

'n Paar maande later maak die Here my drie-uur een oggend wakker en wys vir my Ez. 34:11-24. Dit was 'n stuk in die Bybel wat ek nog nooit voorheen gelees het nie, wat handel oor God wat as Goeie Herder optree vir sy volk. Daar is soveel ooreenkomste tussen hierdie gedeelte en Joh. 10, dat 'n mens maklik tot die slotsom kan kom dat Jesus na Ez. 34:11-24 verwys het toe Hy homself as die Goeie Herder verklaar het. 

"Here," het ek gebid, "as U hiermee vir my sê om nog 'n Little Lambs Learning boek te skryf, gee asseblief vir my nog 'n teken."

Daardie volgende oggend het ons teruggery huis toe na 'n seevakansie. Terwyl ons so ry, merk ek langs die pad 'n klein bordjie op so half in die middel van nêrens. En op die bordjie staan daar geskryf: "Little Lambs of His Flock".

My hart het amper by my keel uitgespring. Hoekom? Wel, voordat die boek Little Lambs Learning geword het, was dit Little Lambs of His Flock!

Dit was my teken en ek het sommer dadelik weggespring met die tweede boek, Little Lambs Learning some Proverbs.

Die tweede boek was nog nie eens uit nie toe mense my begin vra het vir Afrikaanse weergawes van die twee boeke. Dus het ek skouer aan die wiel gesit met 'n blye hart. Uiteindelik sou Skaperjolle die lig sien!

Nou kan ek uiteindelik hierdie twee boeke aan my lesers bekend stel:

Skaperjolle, Vrug van die Gees

en

Skaperjolle, Spreuke


Albei boeke se voorwoord is deur dr. Gerrie v. Deventer geskryf.

Hierdie boeke kan bestel word vanaf ons aanlyn-winkel.

Baie dankie aan almal wat my aangemoedig het. Dankie vir die ondersteuning en mooi getuienisse wat ek reeds ontvang het van diegene wat die boeke gekoop het.

Maar bo alles, baie dankie aan my hemelse Vader wat my toelaat om stories vir Sy skapies te skryf.

My gebed is dat hierdie stories sal wortelskiet in klein hartjies en eendag 'n groot oes sal oplewer vir ons Goeie Herder.

Wees geseënd

Madeleine

NS: Om op datum te bly met my skryfwerk, besoek asseblief my webwerf, madeleineventer.com


Volg my op Facebook

Kontakvorm

Naam

E-pos *

Boodskap *

Gewilde plasings van hierdie blog

'n Brief aan my kind

Prysuitdeling

'n Brief aan Ma