Ek is nie bang nie
“Daar sit baie meer agter hierdie storie as wat ons dink.”
Ja, dit is dalk so. Daar sit miskien meer agter hierdie
storie as wat ons ooit sal kan raai. Of, miskien is dit maar net nog ʼn
vervalle-wêreld storie. Wie weet?
Wat ook al die geval mag wees, ek is nie bang nie.
Want God is baie groter en sterker as wie of wat ook al
agter hierdie storie sit. Om die waarheid te sê, Hy is groter as die storie
self.
Hierdie God ken dié wat Hom liefhet en by Hom skuiling soek
en Hy laat alles ten goede meewerk vir hulle. (1 Cor. 8:3, Nah. 1:7, Rom. 8:28)
Ek is een van daardie wat Hom liefhet en by Hom skuiling
soek. Dit is waarom ek nie bang is nie.
Ek gebruik my gesonde verstand en hou by die reëls soos
wat die Bybel vir my sê om te doen. (Prov.
14:16, Tit. 3:1) Dit beteken ek dra my masker, ek was my hande, ek kuier
nie rond nie.
Omdat ek bang is? Nee. Ek doen die regte ding en ek dink aan ander. Ook iets wat die Bybel vir my sê om te doen. (Jam. 4:17, Phil. 2:4)
Ons is almal nou ʼn bietjie moeg vir hierdie storie. Ek
ook. Keelvol.
Maar nie bang nie.
Liefde
Madeleine