Kies liefde


As Christene weet ons hoe belangrik dit is om te vergewe.

Ons weet dat Jesus gelykenisse en vermanings gebruik het om die belangrikheid van vergifnis te beklemtoon (Mark. 11:25, Mat. 18:21-35, Joh. 20:23). Daar is ook nagevorsde bewyse wat daarop dui dat onvergewensgesindheid ernstige sielkundige afwykings en selfs sommige siektes kan veroorsaak.

Om hierdie rede is ek vinnig om te vergewe. Ek bely hardop, voor getuies, dat ek ʼn persoon vergewe in Jesus se Naam. Klink nogal heel heilig nê? Wel, ek moet bieg dat ek onlangs ontdek het daar is nog baie vir my om te leer.

Jy sien, dit is reg om in Jesus se Naam hardop te bely dat jy vergewe, maar dis net die begin. Daar is ʼn volgende stap en dit het alles te doen met liefde.

Ons moet vergewe soos wat die Here ons vergewe het (Col.3:13).


As jy werklik wil vergewe soos die Here jou vergewe het moet jy doen wat die Here gedoen het toe Hy jou vergewe het…

Hy het jou skuld afgeskryf.

Hy dink nie meer aan jou sondes nie. Hy het dit verwyder so ver as wat die Ooste van die Weste af is. Dit het verdwyn soos mis voor die son. (1 Joh 2:12, Eph. 1:7, Heb. 10:17, Ps 103:12)

Dit is liefde.

Lees nou saam met my hoe Paulus liefde definiëer in 1 Kor. 13:5 (eie klem): “Dit handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie.” (1 Cor. 13:5)

Ek het besef dat ek nie volkome vergewe het solank ek nog boek hou van die kwaad nie. Hoe hou ʼn mens boek van die kwaad? Dit is baie maklik. Jy hou net vas aan die emosies wat in jou wakker gemaak is deur die oortreding. Die hartseer. Die teleurstelling. Die skok. Die woede. Jy speel die oortreding oor en oor in jou geestesoog af en herleef al die pyn weer van voor af. Jy weier dus om die skuld af te skryf. ʼn Mens moet kies om daardie emosies te laat gaan, want dit is wat jou opvreet.

Kies eerder liefde.

Ja, jy is teleurgestel en jou hart wil breek van seer. Jy kan dit nie waag om daardie persoon weer te vertrou nie. Jy is op jou hoede en jy het jouself voorgeneem om liewer kontak te vermy vir veiligheid. Maar, kies eerder liefde. Die liefde bedek alles, glo alles, hoop alles en verdra alles (1 Cor. 13:7).

Ek weet dit is baie makliker gesê as gedaan.

Deur egter te kies om daardie persoon lief te hê word jy die een wat wen. Hoor wat sê Romeine 12:20-21:
“’As jou vyand honger is, gee hom iets om te eet; as hy dors is, gee hom iets om te drink; want deur dit te doen maak jy hom vuurrooi van skaamte.’ Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie.” Rom. 12:20-21

Oorwin die kwaad deur die goeie. Kies liefde. En onthou, liefde moet oorgaan tot dade (1 Joh 3:18)

God is liefde (1 Joh. 4:8). Dit is wat ons as Christene anders maak. Ons kan liefhê omdat God sy liefde in ons harte uitgestort het deur die Heilige Gees (Rom. 5:5).

Ons kan werklik vry wees van wrokke en haat en al die ander nagevolge van onvergewensgesindheid omdat God se liefde in ons is.

Dit is ʼn keuse wat jy moet maak. 


Wees geseënd
Madeleine


©Alle aanhalings in hierdie plasing kom uit die Bybel in Afrikaans 1983-vertaling. Bybelgenootskap van Suid-Afrika tensy anders aangedui

Volg my op Facebook

Kontakvorm

Naam

E-pos *

Boodskap *

Gewilde plasings van hierdie blog

'n Brief aan my kind

Prysuitdeling

'n Brief aan Ma