Lewenswater
Lees ʼn bietjie die
volgende twee versies met aandag en let op die duidelike verband tussen hulle. In
die eerste, uit die Ou Testament, word van God gepraat en in die tweede, uit
die Nuwe Testament, word verwys na Jesus:
“U is die bron van die lewe, deur U lig
lewe ons.” Ps. 36:9-10
“In Hom was daar lewe, en dié lewe
was die lig vir die mense.” Joh. 1:4
Is dit nie
inderdaad ʼn onweerlegbare bewys dat Jesus God is nie?
Daar is ʼn paar sulke
verse uit die Ou en die Nuwe Testament wat met mekaar verband hou en wat bewys
dat Jesus God is, maar waarop ek in hierdie plasing wil fokus is die titel:
Bron van die lewe.
Ons lees in Jer.
17:13 dat dié wat vir God verlaat, die bron van die lewe verlaat en in Jer.
2:13 kla God die volk aan: “My volk het
twee sondes begaan: Hulle het My, die bron van lewende water, verlaat, en hulle
het vir hulle waterbakke uit klip gekap, waterbakke wat gebars is en nie water
hou nie.”
Dit klink soos ʼn
baie dom keuse om te maak. Waarom sal ʼn mens probeer water drink uit stukkende
klipbakke as jy dit direk van die fontein af kan drink? En tog is dit wat baie mense
doen. Hulle gaan soek lewende water oral behalwe by die Bron. Hulle kyk die
Bron mis en drink water wat nooit hulle dors sal kan les nie.
Jesus het vir die
Samaritaanse vrou gesê: “maar wie van die
water gedrink het wat Ek hom sal gee, sal in alle ewigheid nooit dors kry nie.
Nee, die water wat Ek hom sal gee, sal in hom ʼn fontein wees met water wat
opborrel en vir hom die ewige lewe gee.” Joh. 4:14
Elke oggend van
die Huttefees (Sukkot) is daar ʼn
spesiale water seremonie in Jerusalem gehou. Die priesters sou water uit die
Siloambad skep met ʼn goue beker en dit dan oor die altaar gaan uitgooi terwyl
mans en vroue volg met vrolike danse en musiek. Tydens die seremonie sou hulle
die volgende vers uit Jes. 12:3 opsê: “Met
blydskap sal julle water skep uit die fonteine van redding.” Is.12:3.
In Hebreeus klink
hierdie vers so: “Ushavtem mayim b’sason
mimayney haYeshua”
Die Hebreeuse
woord vir redding of “salvation” is
baie naby aan die Hebreeuse naam vir Jesus, Yeshua.
Die Siloambad was
vir die volk simbolies van hierdie fonteine van redding. Min het hulle besef
dat die ware fontein van redding, die Bron van lewende water, lewensgroot daar tussen
hulle staan! Dit is geen wonder dat Jesus op die laaste dag van hierdie fees uitgeroep
het: “As iemand dors het, laat hy na My
toe kom en drink!” nie.
Saam met die
uitnodiging is daar ʼn belofte: “Met die
een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê: Strome lewende water sal uit sy
binneste vloei. Hiermee het Hy na die Gees verwys, want die mense wat tot
geloof in Hom kom, sou die Gees ontvang.” Joh. 7:37-39
Die Skrif waarna
Jesus hier verwys kry ons in Jesaja 58:11b: “Jy
sal wees soos ʼn tuin met volop water, soos ʼn fontein waarvan die water nie opdroog
nie.” Is. 58:11
Hierdie is nie ʼn
toevallige boodskap nie. Toe die Heilige Gees dit op my hart geplaas het om te
skryf oor Jesus as die Bron van lewende water, het ek nie geweet van die water
seremonie tydens Sukkot nie! Ek was
al aan die skryf toe ʼn vriendin ʼn e-pos van die “Messianic Bible Society” vir my aanstuur waarin die water seremonie
verduidelik word (en nee, sy het glad nie ʼn benul gehad waarmee ek besig is
nie). Vir die eerste keer het ek toe verstaan waarom Jesus die woorde van Joh.
7:37 juis tydens Sukkot uitgeroep
het. Maar dit was nie al nie, ek het toe ook verstaan waarom die Heilige Gees
wou hê ek moet juis nou daaroor
skryf. Sukkot word juis nou gevier!
As jy dus nog
steeds die Bron van lewende water ignoreer en probeer om uit stukkende
klipbakke te drink is hierdie boodskap dalk spesiaal vir jou! Dit is die stem
van die Herder wat na sy een verlore skapie roep. As jy daardie skapie is, is
dit nou tyd om te antwoord.
Die lewende water
is in oorvloed beskikbaar (Joh. 10:10, Ps. 36:8-11). Dit sal ʼn borrelende
fontein in jou word en jy sal wees soos ʼn boom wat by waterstrome geplant is,
waarvan die blare nie verdroog nie en wat op die regte tyd vrugte dra (Jer.
17:8) Jy kan slegs vrugte dra as jy in Jesus bly en Hy in jou (Joh. 15:4-5).
Droogte
Ek is dors,
maar jy is nie.
Om my hart ʼn rou
kors,
maar jy, bly
hier.
Wat drink jy?
Daar is droogte!
Waar kan ek
water kry
deur die breë
poorte?
Jy’s ʼn boom
by waterstrome.
Ek jaag net ʼn
droom,
val oor my eie
krone.
Ek bly dors.
Jy hou aan bot.
My hart is ʼn
gemors.
My vrugte is
vrot.
Ek kort water.
Jy is nog hier.
Moenie wag tot
later!
Het Iemand jou
gestuur?
ʼn Nou poort.
So lei jy my.
Gered van ʼn
sieledood.
Die droogte is
verby.
Moenie wag tot later, want later kom dalk nooit. As
jy iemand moet vertel van die Bron van lewe, doen dit vandag. As jy nog by die
Bron van lewe moet uitkom, doen dit vandag. Jesus het gesê: “Dit verseker Ek jou: As iemand nie uit water en Gees gebore word nie,
kan hy nie in die koningkryk van God kom nie.” Joh. 3:5. Hy praat hier van
die wedergeboorte wat plaasvind as jy lewende water by die Bron van lewe drink.
As jy nog nie die keuse gemaak het om Jesus Christus as jou Verlosser aan te
neem nie, volg gerus hierdie skakel en gaan lees hierdie bladsy: Salvation explained.
Seëngroete
Madeleine