Ek is bly!
Ons almal ken Filippense
4:4, want hy sing so lekker.
Maar wat beteken
dit nou eintlik om jou in die Here te verbly? Hoe vind jy jou vreugde in God en
hoe kan jy altyd bly wees?
Ek dink aan Ps.
37:4: “Vind jou vreugde in die Here, en
Hy sal jou gee wat jou hart begeer.” En aan 1 Tes. 5:16-18 wat sê: “Wees altyd bly. Bid gedurig. Wees in alle
omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag.”
Dalk sal dit help
as ons mooi verstaan waaroor ons bly
moet wees. Watter rede het ons om bly te wees in Christus?
Kom ek vertel ʼn
storie wat jou dalk sal help om te verstaan watter groot rede ons het om bly te
wees…
My dogtertjie het
onlangs geleer waarom daar ʼn reël is wat sê, jy mag nie klippe gooi nie. Sy het
die reël oortree en ʼn motor se agterruit stukkend gegooi. Niemand het dit sien
gebeur nie, maar sy het erken dat dit sy was en het baie sleg gevoel. Glo my,
daar was nie min trane nie. Maar, al het sy die regte ding gedoen deur haar
skuld te erken en daaroor jammer te voel, is dit ongelukkig nie waar die storie
eindig nie. Jy sien, sy moes een van die moeilikste dinge in die lewe leer en
dit is om die nagevolge van jou dade te dra. In haar geval, moet sy nou ʼn maand
langer wag vir iets wat sy baie graag wil hê. Die nagevolge van ons dade is
iets waarmee ons almal moet saamleef. Dit maak nie saak hoe jammer jy is en hoe
hard jy huil nie, dit vat nie die nagevolge weg nie.
Die Bybel sê almal
van ons het gesondig want, niemand kan al die gebooie van God gehoorsaam nie. (Rom.
3:23, Eccles. 7:20, James 2:10, 1 John 1:8)
Maar, sonde het
ook nagevolge.
Die nagevolge van sonde
is die dood en daar rus ʼn vloek op almal wat nie al die gebooie van God
gehoorsaam nie. (Rom. 6: 23, Rev. 20:15, Deut. 11:26-28, Gal. 3:10)
Niemand, geen mens
op aarde, kan hierdie nagevolge vryspring nie!
Dit is waarom God
in Sy wonderlike liefde en genade vir ons ʼn uitweg gegee het…
Net soos wat my
dogtertjie haar skuld erken het en daaroor baie jammer was. Moet ons ook teenoor
God erken dat ons sondaars is en daaroor baie jammer wees.
Maar, ons hoef nie
die nagevolge van sonde te dra nie. Hoekom nie? Want, Jesus Christus het dit
klaar vir ons part gedra! Al wat ons moet doen is om dit te glo en te bely. (Rom.
10:9)
Galasiërs 3:13 sê:
“Christus het ons losgekoop van die vloek
wat die wet meebring, deur in ons plek ʼn vervloekte te word.”
In 2 Korintiërs 5:21
staan daar: “Christus was sonder sonde,
maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid
met Christus, deur God vrysgespreek kan wees.”
Die profeet Jesaja
se profesie oor Jesus klink só: “Oor óns oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die
straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sý wonde het daar vir ons
genesing gekom. Ons het almal gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad
geloop, maar die Here het ons almal se sonde op hom laat afkom.” (Isa. 53:5-6)
Ek weet nie van
jou nie, maar dit is vir my meer as genoeg rede om Filippense 4:4 uit volle
bors te sing!
In Christus is ons
is vry van die nagevolge van sonde!
Dit is waarom ons
altyd bly kan wees. Dit is wat dit beteken om jou vreugde in God te vind.
Dit is ware
vreugde.