Al my familie

In een van The Gospel daily se dagstukkies , het ek iets gelees wat my laat dink het en wat ek graag met julle wil deel.

Dit gaan oor familie. Almal van ons ken die sêding: “Jy kan jou vriende kies maar nie jou familie nie.” Ja, dit is waar. En dit is ‘n lekker sêding om te gebruik as daar familielede is waarop jy dalk nie so baie trots voel nie. Dan is daar die bietjie meer familiegunstige een: “Bloed is dikker as water.” Ek hou van hom. Dit beteken jou familie sal altyd jou kant kies.

In die dagstukkie word die stelling gemaak dat daar eintlik drie soorte familie is. Daar is jou bloedfamilie, die een wat jy nie kan kies nie maar wat altyd jou kant sal kies. Dan is daar jou familie in Christus. Romeine 8:29 is een van die verse in die Bybel wat sê dat ons almal broers (en susters) is. Die derde soort familie is daardie vriende wat soos familie is. Spreuke 18:24 praat van so ʼn vriend.

So wat is nou eintlik my punt? Wel ek het ʼn bietjie gaan dink hieroor en besef dat ʼn mens al drie soorte familie nodig het om te oorleef in hierdie wêreld. Al drie soorte familie is ʼn geskenk van God. Hulle is mense wat Hy saam met jou op dieselfde lewenspad geplaas het vir ʼn goeie rede. Ja, elkeen van hulle. Jou Christus-familie en jou vriende-familie het nie toevallig ontstaan nie.

Ek hou van die verhaal in Handelinge 4: 23-31. Petrus en Johannes is so pas vrygelaat met ʼn dreigende bevel dat hulle nie weer in Jesus se Naam mag preek nie. Die heel eerste ding wat hulle doen is om na hulle Christus-familie toe te gaan en vir hulle te vertel van die dreigemente. Wat doen die Christus-familie? Hulle bid saam met Petrus en Johannes totdat die plek waar hulle bymekaar was skud.

Bloedfamilie is waar dit begin ingewikkeld raak. In my jare van skoolgee het ek al baie keer kinders jammer gekry wat, volgens my, in die verkeerde familie gebore is. Die realiteit is dat jy baie dankie moet sê as jy, soos ek, liefdevolle, goeie ouers het. Daar is regtig verskriklike ouers. Ek kan vir jou baie rillerstories vertel en ek is seker jy ken ook heelwat. Daar is alkoholis-pa’s en broers en susters wat mekaar haat. Daar is kinder-mishandeling en verwaarlosing. Die lys gaan aan en aan. Niemand verstaan dit nie.

Maar in dieselfde asem kan ek ook vir jou ʼn lang lys gee van mense wat gegroei het uit hulle slegte huislike omstandighede. ʼn Paar van hulle is: Stormie Ormartian, Joyce MeyerCharlize Theron en Oprah Winfrey.

Gaan lees gerus hulle stories. Hulle slegte grootword jare het bygedra tot hulle sukses en sommiges gebruik die slegte ervarings nou tot God se eer. Hiermee bedoel ek nie dat slegte families ʼn goeie ding is nie! Wat ek bedoel is, ons families is ook nie net toevallig saamgegooi nie. Elke familielid speel ʼn rol op ons lewenspad. En, dit is moontlik vir mense om die goeie uit elke situasie te haal en daarop te bou.

Mense is ingewikkelde wesens en dit kompliseer verhoudings. Ons almal het maar ons giere en nukke. Maar dit is juis waar liefde inkom. Die tipe liefde wat alles bedek, glo, hoop en verdra. En, soos wat Dr Seuss tereg gesê het: “Be who you are and say what you feel, because those who mind don’t matter and those who matter don’t mind.”


Dankie tog vir familie!

Volg my op Facebook

Kontakvorm

Naam

E-pos *

Boodskap *

Gewilde plasings van hierdie blog

'n Brief aan my kind

Prysuitdeling

'n Brief aan Ma