Alles tot die eer van God
“Julle moet niemand iets verskuldig wees
nie, behalwe om mekaar lief te hê. Wie sy medemens liefhet, voer die hele wet
van God uit. Al die gebooie; jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie moord
pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie begeer nie, of watter ander gebod
daar ook al is, word immers in hierdie een gebod saamgevat: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’
Die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie. Daarom is die liefde die volle
uitvoering van die wet.” Rom 13: 8-10
Jesus se lewe op
aarde het bestaan uit liefhê en dien. Behalwe vir die evangelie, is dit onder
andere ook die boodskap wat Hy verkondig het. Dit is Sy woorde. Dit is die wet
van Sy koningryk. En, daar is wonderlike beloftes wat hiermee saamgaan!
Die belofte van
versorging en beskerming
“Is dit nie dat jy vir die wat honger is,
van jou brood gee nie, dat jy aan die armes en die dakloses ʼn blyplek gee nie,
dat wanneer jy iemand sonder klere sien, jy vir hom klere gee nie, dat jy jou
medemens nie aan sy lot oorlaat nie?
Dan sal die lig vir jou
deurbreek soos die rooidag, jy sal gou herstel. Hy wat jou red, sal voor jou
uit gaan, die mag van die Here sal agter jou aankom.” Is 58: 7-8
“Julle moet julle dus nie bekommer en vra:
‘Wat moet ons eet of wat moet ons drink of wat moet ons aantrek?’ nie. Dit is
alles dinge waaroor die ongelowiges begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat
julle dit alles nodig het. Nee, beywer
julle allereers vir die koningryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy
julle ook al hierdie dinge gee.” Mat 6: 31-33
“Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor
en daarvolgens handel, kan vergelyk word met ʼn verstandige man wat sy huis op
rots gebou het. Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het
teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en tog het dit nie ingestort nie,
want die fondament was op rots.” Mat 7:24-25
Die belofte van
blydskap
“Dit sê Ek vir julle sodat my blydskap in
julle kan wees en julle blydskap volkome kan wees. Dit is my opdrag: Julle moet
mekaar liefhê soos Ek julle liefhet.” Joh 15: 11-12
Die belofte van
gebedsverhoring
“As julle in My bly en my woorde in julle,
vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry. My Vader word juis daardeur
verheerlik dat julle baie vrugte dra en my dissipels is.” Joh 15:7-8
Die belofte van
God se teenwoordigheid
“Jesus antwoord hom: ‘As iemand My liefhet,
sal hy my woorde ter harte neem; en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom
toe kom en by hom woon.” Joh 14: 23
Daar is nog baie
meer beloftes wat jy in die Woord sal vind, maar hierdie is van my gunstelinge.
Die heel beste
manier om die evangelie te verkondig, is deur jou dade. As jy leef soos wat
Jesus ons beveel het om te leef sal mense dit raaksien. Ons is as volgelinge
van Jesus, veronderstel om anders te wees. (Rom 12:2) Ons moet alles wat ons
doen vir die Here doen, nie vir mense nie. Dit gaan nie daaroor om mense
tevrede te stel of in te pas nie. (Col 3:23, Eph 6:7) Ons is in Christus Jesus
as nuwe mense geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons
bestem het. (Eph 2: 10)
Kom ons begin dan
vandag lewe tot eer van God en nie tot eer van onself nie.