Kaalvoet deur die wildernis

My staptog deur die wildernis het veertien jaar gelede begin...
Daardie dag toe ek, op my verjaarsdag, gehoor het dat ek ʼn chroniese siekte het. Nee, ek gaan nie sê watter verjaarsdag dit was nie, so maklik gee ek nie my ouderdom weg nie (hehehe)!

Rheumatoϊde Artritis... wat op aarde is dit? Ek het ook nie geweet nie. Later, in ʼn spesialis se spreekkamer sou ek hoor dit is ʼn outo-immuun-siekte. Om een of ander rede besluit jou immuunstelsel jy is die vyand en word jou liggaam aangeval. In die geval van RA is dit jou gewrigte wat deurloop.
Was ek kwaad? Ja. Was ek bang? Ja. Het ek myself jammer gekry? Vreeslik baie. Het ek gebid vir genesing? Nee...
Hoekom nie?
Ek is self nie heeltemal seker nie. Dalk het ek gedink dat dit nou maar my lot is en klaar. Dalk was ek te kwaad vir God. Dalk het ek gedink dat ek seker maar verdien wat my oorkom en dat ek oor een of ander groot sonde gestraf word. Ek weet nie. Wat ek wel weet, is dat ek baie met God baklei het. Ek wou weet hoekom. Hoekom ék? Jy sien, ek het aan witbroodjie-sindroom gelei en was diep teleurgesteld dat so iets vir mý, die toonbeeld van voorbeeldigheid, moet oorkom.

Nou weet ek egter beter....hoekom níe ek nie?

Ek kry, na ʼn paar jaar in die wildernis, die boek The problem of pain deur C.S. Lewis in die hande. Sjoe! Met ʼn woordeboek langs my het ek deur die hoogdrawende, outydse Engels geworstel en so ʼn paragraaf per dag gevorder. Dit het maar stadig gegaan, want na elke gedagte moes ek eers self bietjie dink of ek die man se gedagte reg verstaan. Maar in daardie boek ontdek ek toe ʼn pad tussen deur die skerp klippe en warm sand...

God werk aan díe mense deur wie Hy wil werk.

Dink ʼn bietjie hieroor... God het met die Israeliete gewerk in die wildernis. Hoekom? Want  Hy het ʼn plan met hulle gehad. Was dit vir hulle lekker in die wildernis? Beslis nie. Maar dit was die plek waar God met hulle gepraat het. Waar Hy hulle vertel het hoe hulle anders kan wees as die ander volke. Dis waar Hy hulle heilig gemaak het. As jy ʼn kind van die Here is, kan jy met sekerheid weet dat jy deur die wildernis stap omdat God met jou wil werk.
Nog iets wat ek baie vinnig besef het, is dat ʼn mens nie die wildernis sonder God moet probeer deurstap nie. Moses het geweier om verder te gaan as God nie saamgaan nie. Nee, die wildernis is nie grappies nie. As jy jouself ook nou in ʼn wildernis bevind, is ek seker  jy sal “amen!” kan sê hierop.

So, hoe dan nou gemaak? Moet ons nou maar net ons lot aanvaar en sirkels loop in die wildernis? Of mag ons bid vir ʼn pad uit?
Ja, ons mag.
Hoe weet ek dit? Want die Israeliete was op pad uit. Na ʼn beloofde land toe. Die oomblik toe ek dit besef het, het ek begin bid vir genesing.

Een aand het ek moedeloos gebid: “Here, hoe weet ek dat U ooit na my luister?” Die volgende oggend in die kerk het ek myself skoon simpel geskrik toe die pastoor reguit na my kyk en sê: “God hears every prayer you pray.”

Jy in die wildernis... onthou...jy is op pad uit...
So stap voort. Al is dit kaalvoet.
Die wildernis rondom Jerigo in Israel

Volg my op Facebook

Kontakvorm

Naam

E-pos *

Boodskap *

Gewilde plasings van hierdie blog

'n Brief aan my kind

Prysuitdeling

'n Brief aan Ma