Wees produktief

Net soos jy, bevind ten minste ʼn derde van die wêreld se populasie hulle tans in die een of ander staat van inperking.

Kom ons wees nou maar eerlik met mekaar… so ʼn staat van inperking is ʼn ernstige uitdaging vir die meeste van ons.

Dit mag dalk vir jou voel soos die einde van die wêreld, maar, wat ons tans beleef is eintlik niks vreemds vir die mensdom nie...

Dokters glo dat die eerste verwysing na ʼn griep pandemie alreeds so vroeg as 412 vC deur Hippocrates gerapporteer is. Dan was daar die plaag van Justinian rondom 600 nC en natuurlik Builepes (oftewel Black Death) wat rofweg elke twintig jaar vanaf 1348 tot 1665 in Europa uitgebreek het. In al hierdie gevalle was inperkings noodsaaklik. Die gebruik van kwarantyn-sentrums vir siek mense is al van so vroeg as die 1500’s af aangewend.

In 1918 is ʼn derde van die wêreld se bevolking getref deur ʼn griep pandemie wat 50 miljoen lewens geëis het. Almal moes maskers dra en skole, teaters en besigheide moes noodgedwonge sluit. Hierdie pandemie het vir twee jaar geduur. Ek is seker daarvan hulle was ook bang die lewe gaan nooit weer na normaal terugkeer nie. Maar dit het. Skole en teaters het weer oopgemaak en besighede het weer op die been gekom.

So jy sien, niks nuut nie. Net soos daardie pandemies van jare gelede, sal hierdie Covid-19 pandemie ook verby gaan en eendag in die Geskiedenis boeke opgeteken word.

Intussen kan ons nie ophou om produktief in God se Koninkryk te wees nie. 

Dit het my laat dink aan drie mans wat die wêreld vir altyd verander het deur produktief te wees tydens hulle staat van inperking...

Paulus

Nadat Paulus vir meer as tien jaar die destydse wêreld vol gereis en kerke gestig het oral waar hy kon, word hy as ʼn gevangene in Rome onder huis arres geplaas vir twee jaar. (Acts 28:16, 30-31)
Tydens hierdie twee jaar het hy briewe geskryf aan die kerke in Kolosse, Efese en Filippi asook ʼn brief aan Filemon. Hierdie briewe sou later die vier boeke Kolossense, Efesiërs, Filippense en Filemon van die Nuwe Testament word.

Behalwe daarvoor, het hy ook steeds vrylik die Evangelie verkondig aan almal binne hoorafstand, insluitende die soldate wat hom binne moes hou.

Johannes

Die apostel, Johannes, was die laaste oorlewende van die twaalf dissipels van Jesus. Volgens tradisie was hy die leier van die Kerk in Efese voordat hy gevange geneem en deur Keiser Domitian van Rome na die eiland Patmos verban is (Rev 1:9).
Patmos is ʼn klein, klipperige eiland waar gevangenis onder baie slegte omstandighede aangehou was. Hulle is ook meestal gedwing om in myne op die eiland te werk. So was hulle dan ingeperk en weerhou daarvan om verdere amok te veroorsaak in die Romeinse ryk.
Maar, juis in 'n tyd waarin Johannes nêrens heen kon gaan nie, neem God hom iewers heen. En nie sommer na enige plek toe nie! God wys vir hom hoe die hemel lyk! Daar gaan staan Johannes in die troonkamer van God en word die eindtyd aan hom openbaar.
In opdrag van Jesus, skryf Johannes alles neer wat hy gesien het en so word die boek van Openbaring gebore.

Martin Luther

Nadat Martin Luther sy bekende 95 teses teen die kerk se deur vasgespyker en sodoende ʼn revolusie begin het, moes hy vlug vir sy lewe.
Gelukkig was die hertog, Frederick III, hom goedgesind en word hy weggesteek in die Wartburg kasteel. Daar moes hy egter vir tien maande wegkruip.

Maar moenie dink hy het gesit en niks doen tydens daardie tien maande nie! Inteendeel, hy het passievol begin werk aan ʼn Duitse vertaling van die Bybel vanuit Grieks en het daarin geslaag om die hele Nuwe Testament in slegs 11 weke oor te vertaal! En onthou, in 1521 was daar nie Microsoft Word nie.


 Hierdie drie mans was instrumente in God se hand tydens ʼn staat van inperking. God het steeds ʼn plan met hulle lewens gehad en God se planne kan nie ingeperk word nie. Hy het daardie planne deurgevoer.

Jy kan ook ʼn verskil maak gedurende hierdie tyd deur produktief te wees in God se Koninkryk.

Tegnologie maak dit vir jou moontlik om die evangelie digitaal te versprei en mense te bemoedig.

Meer tyd saam met jou gesinslede maak dit vir jou moontlik om familiebande te versterk en ʼn blywende bydra te lewer tot jou kinders se geestestoestand en hulle akademiese ontwikkeling.

Wat jy ook al doen tydens hierdie staat van inperking, of jy nou werk, kinders skool of ledig rondlê, daar is een ding wat jy nie moet afskeep nie, en dit is jou verhouding met God. Hoe meer tyd jy in gebed en die Woord van God spandeer, hoe sterker word jou geloof en hoe swakker word jou vrees en moedeloosheid. God wil jou nog steeds gebruik. Hy het steeds ʼn plan met jou lewe. 

Laat die Heilige Gees jou lei om die wil van God te ken. 

Groete

Madeleine 



 



Volg my op Facebook

Kontakvorm

Naam

E-pos *

Boodskap *

Gewilde plasings van hierdie blog

'n Brief aan my kind

Prysuitdeling

'n Brief aan Ma