'n Plan van aksie


Aan die begin van Januarie het ek die Here gevra om aan my ʼn teksvers vir die nuwe jaar te gee. Die Here het Jeremia 29:11 'n paar keer oor my pad gestuur.



Dit is ʼn versie waarmee ons almal wel bekend is en al so baie gehoor het dat ons nie juis veel aandag daaraan gee nie. Maar dit is die teksvers wat God aan my gegee het vir die jaar, so daarom het ek besluit om die vers in konteks te lees en verklarings rondom hierdie gedeelte te bestudeer.

Wat ek ontdek het, is dat hierdie versie deel is van ʼn storie en dat dit juis die storie is wat aan hierdie teksvers sy wonderlike betekenis gee.

Die storie speel af rondom die jaar 609 vC. Koning Nebukadnesar het ʼn groot gedeelte van die volk in ballingskap weggevoer na Babel toe. Die profeet, Jeremia, was onder ʼn handjievol van die volk wat agtergebly het in Juda.

ʼn Vals profeet, Gananja, het aangekondig dat God die volk na twee jaar sou terugbring uit ballingskap uit (Jer. 28:2-4). Daar was ook ander vals profete wat die volk aangeraai het om te rebelleer en nie onderdanig te wees aan die koning van Babel nie.

Dit was egter nie deel van God se plan nie. So, Hy het aan Jeremia opdrag gegee om ʼn brief aan die ballinge te stuur met die volgende woorde in:
'So sê Ek, die Here die Almagtige, die God van Israel, vir al die ballinge wat Ek uit Jerusalem in ballingskap na Babel toe weggevoer het:
Bou vir julle huise en bewoon dit, lê tuine aan en eet die opbrengs daarvan, trou en bring kinders in die wêreld, en laat hulle trou en kinders in die wêreld bring.
Julle moet daar in Babel baie word, nie min nie.
Bevorder die belange van die stad waarheen Ek julle in ballingskap weggevoer het, bid tot My vir daardie stad, want sy belange is ook julle belange.
So sê die Here die Almagtige, die God van Israel: Moenie dat die profete en waarsêers daar by julle julle mislei nie. Moenie ag slaan op daardie drome wat julle so graag droom nie. Daardie mense tree sonder opdrag op as profete in my Naam. Ek het hulle nie gestuur nie, sê die Here.
So sê die Here: Oor presies sewentig jaar sal Ek Babel straf en julle onder my sorg neem en dan sal Ek my belofte nakom om julle hier na Jerusalem toe terug te bring.
Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle 'n toekoms gee, 'n verwagting! '  - Jer. 29:4-11 (eie uitleg)
So, God het basies vir die volk gesê: “Gaan aan met julle lewe daar waar julle is. Maak die beste gebruik van die omstandighede waarin julle is. Want, Ek het ʼn plan met julle.”

Ons weet vandag dat God wel na sewentig jaar die volk uit Babel uit gered het. Ons weet ook wat sy plan vir die volk was en dat Hy dit uitgevoer het. Soos wat Hy belowe het, sou Jesus Christus, die Verlosser van die wêreld, deur hulle, die nageslag van Abraham, tot die mensdom kom (Gal. 3:8, Is. 9:6-7).

Hulle het egter nie geweet wat ons nou weet nie. Al wat hulle kon doen was om te glo in die beloftes en gehoorsaam te wees aan God se opdrag om die beste van hulle omstandighede te maak. Hulle moes vertrou op die getrouheid van God. En hulle moes aanhou hoop.

Wat is jou Babel? ʼn Siekte? ʼn Finansiële krisis? ʼn Gebroke verhouding? ʼn Hopelose situasie?

Wat ookal jou Babel is, God sê vandag vir jou dat Hy ʼn plan het met jou lewe. Dat jy nie moet opgee nie, maar die beste lewe moet leef wat jy kan. Daar in jou Babel. Tot die eer van sy Naam.

Voer jou opdrag uit. Verkondig die Evangelie en soek die belange van Sy Koninkryk. Wees sout en lig. Wys jou liefde vir God en jou medemens in alles wat jy doen.

Moenie onder ʼn emmer wegkruip totdat Hy jou uit Babel uit red nie. Dis wat die vyand wil hê jy moet doen. Nee, laat jou lig skyn. Word meer, nie minder nie. Dra vrugte.

Op die regte tyd sal Hy jou uit Babel uitlei met ʼn plan. 'n Plan vir voorspoed en nie teenspoed nie. 
Genesing, sorg en bevryding is beloftes waarop ons kan staatmaak. Hou net jou fokus op God.

Daar is vir jou ʼn toekoms en ʼn verwagting.

Wees geseënd
Madeleine

©Alle aanhalings in hierdie plasing kom uit die Bybel in Afrikaans 1983-vertaling. Bybelgenootskap van Suid-Afrika tensy anders aangedui

Volg my op Facebook

Kontakvorm

Naam

E-pos *

Boodskap *

Gewilde plasings van hierdie blog

'n Brief aan my kind

Prysuitdeling

'n Brief aan Ma