Bangmaakwoorde


Mat. 7:21-23 is ʼn gedeelte in die Bybel wat baie Christene ongemaklik laat voel. Hoe is dit dan nou dat nie almal wat in Jesus se Naam profeteer, duiwels uitdryf en wonders doen eendag in die koninkryk van die hemel gaan kom nie? Veral vers 23 maak ʼn mens bekommerd: “Dan gaan ek openlik vir hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af, julle wat die wet van God oortree.”

Sjoe! Dis woorde wat ek beslis nie eendag wil hoor nie.

Wat beteken hierdie stuk? Hoe kan ek seker maak ek hoor nie eendag daardie woorde nie?

Is dit dan verkeerd om in Jesus se Naam te profeteer, duiwels uit te dryf en wonders te doen? Nee, beslis nie! Jesus gee ons die opdrag en die outoriteit om dit te doen (Mat. 10:1,8, Mark. 16:17).

Konserwatiewe gereformeerdes is lief daarvoor om hierdie stukkie aan te haal as hulle charismatiese Christene wil kritiseer. Veral die duiwels uitdryf en wonders doen gedeelte. Hierdie stukkie het egter niks te doen met denominasie nie. As jy hierdie gedeelte in konteks lees sal jy sien dat Jesus so pas Sy aanhoorders teen vals profete gewaarsku het in Mat. 7:15-20. Dit is dus die vals profete wat Jesus so pas genoem het waarna Hy ook verwys in Mat 7:21-23.

Sleutelwoorde
Daar is twee sleutelwoorde wat baie belangrik is as ons hierdie gedeelte reg wil verstaan en dit is die woorde “wil” en “wet”. Vals profete doen nie Sy wil nie en steur hulle nie aan Sy wet nie. Hulle intensies is selfgesentreerd. Dit is wat hulle vals maak. Hulle behoort nie regtig aan Jesus nie, so Hy ken hulle ook nie as vriende nie.

Die eerste sleutelwoord kry ons in Mat. 7:21 (eie klem): “Nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is.”

Wat is die wil van die Vader?

Die tweede sleutelwoord staan in Mat. 7:23b (eie klem): “Gaan weg van My af, julle wat die wet van God oortree.” Die Ou vertaling sê “...julle wat die ongeregtigheid werk” en die NKJV “...you who practice lawlessness”. Hy praat dus hier met mense wie se werke wetteloos is.

Wat is die wet van God?

Dit kom alles neer op liefde
Die wil van die Vader en die wet van God kan opgesom word in een woord en dit is die woord Liefde.

In die gedeelte oor die vals profete, gee Jesus ons ʼn manier om hulle uit te ken (Mat. 7:16). Hy sê ons moet kyk na watter vrugte ons in hulle lewens sien. Die vrug van die Gees of die vrug van die vlees? (Gal. 5:19-22) ʼn Vals profeet dra nie die vrug van die Gees nie. Liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. Vergelyk gerus hierdie eienskappe met Paulus se beskrywing van liefde in 1 Kor. 13 en jy sal sien dat dit alles kenmerke van liefde is.

Paulus maak ook die volgende stelling oor die vrug van die Gees: “Teen sulke dinge het die wet niks nie.” (Gal. 5:23b) Hoekom nie? Want, die wet van God kom ook neer op liefde. Toe Jesus gevra is watter wet die belangrikste van almal is, het Hy geantwoord: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag.’ Die tweede is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ Geen ander gebod is groter as dié twee nie.” (Mark. 12:30-31.)  



Aangesien dit God self is wat hierdie stelling gemaak het, kan ons met sekerheid sê dat dit die wil van God is dat ons Sy wet van liefde moet nakom. Liefde vir God en liefde vir mense.

Jesus se hele lewe was liefde tot die dood toe. ʼn Diensbare, onselfsugtige liefde. Hy het gesê: “Ek gee julle ʼn nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê.” (Joh. 13:34) En ook “Dit beveel Ek julle: Julle moet mekaar liefhê!” (Joh. 15:17) Dit is ʼn bevel, ʼn gebod, ʼn wet. God se wet.

Die liefdelose
So wie is dit dan wat eendag gaan hoor: “Gaan weg van my af”? Dit is diegene wat profeteer, duiwels uitdryf en wonders doen, in Jesus se naam, sonder liefde vir God en mense. Hulle gebruik die outoriteit van sy Naam sonder liefde. Sy Naam word daardeur oneer aangedoen. Dit is ʼn sonde so groot dat Hy hulle nie wil ken nie. Hy kan hom nie met hulle vereenselwig nie, want Hy is liefde.

 “God is liefde; wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hom.” (1Joh. 4:16b) Jy kan nie jouself ʼn Christen noem as jy nie liefhet nie. Lees gerus die hele 1 Johannes.

Laat alles by jou dus in liefde geskied. Alles.

Dit is wat jou ʼn volgeling van Christus maak.

Wees geseënd
Madeleine


©Alle aanhalings in hierdie plasing kom uit die Bybel in Afrikaans 1983-vertaling. Bybelgenootskap van Suid-Afrika tensy anders aangedui

All images: Pixabay

Volg my op Facebook

Kontakvorm

Naam

E-pos *

Boodskap *

Gewilde plasings van hierdie blog

'n Brief aan my kind

Prysuitdeling

'n Brief aan Ma