Hou kop bo water


Christene word nie vrygespreek van probleme nie. Net soos elke ander mens op Aarde bevind ons onsself soms in lewensstorms.

Probleme, rampe en siektes is alles die gevolg van die sondeval. Ons lees in die Bybel dat die duiwel die heerser oor die wêreld is. Hy is die vader van leuens en hy is daarop uit om te steel, te moor en te verwoes. (Rev. 12:9, John. 14:30, Luke 4:5-6, John 10:10, John 8:44, John. 12:31, 2 Cor. 4:4, James 4:4, 1 John 2:16)

Maar, die goeie nuus is: “Hy het ons uit die mag van die duisternis weggeruk en ons onder die heerskappy gestel van sy Seun wat Hy liefhet.” (Col. 1:13)



Het jy mooi gelees? As Christen is jy nie meer onder die mag van die duisternis nie! Al woon jy in die wêreld is jy nie van die wêreld nie. Nee, as kind van God is jy onder ʼn nuwe heerskappy! Jy is nou ʼn burger van God se koninkryk. Dit beteken dat die wêreld se probleme jou nie gaan onderkry nie want Jesus, onder wie se heerskappy jy nou leef, het die wêreld oorwin! (Joh. 16:33, 1 John 5:4, John 17:14)

So, kind van God, wanneer jy jouself pens en pootjies in die middel van ʼn lewensstorm bevind, onthou die volgende:

1)    God is alreeds daar

Deut. 31:8 sê: “Die Here sal voor jou uit gaan. Hy sal by jou wees. Hy sal jou nie in die steek laat nie, jou nie alleen laat nie. Moenie bang wees nie, moenie skrik nie.”

Vir God is daar geen verrassings nie. Hy weet van elke probleem wat oor jou pad gaan kom en Hy wag hulle in. Hy is alreeds gereed om jou by te staan en deur te help.

“Hy wat jou red sal voor jou uit gaan, die mag van die Here sal agter jou aankom.” Is. 58:8b

2)    Hy hou jou hand vas

In Jes. 41:13 belowe God: “Ek is die Here jou God, Ek vat jou hand, Ek sê vir jou: Moenie bang wees nie, Ék help jou.” (Is. 41:13)

Asaf het verbitterd en verontreg gevoel. So erg dat hy hom soos ʼn redelose dier gedra het. Het jy ook al so gevoel? Dan kan jy saam met hom vashou aan hierdie troos: “Tog was ek nog altyd by U, want U vat my aan die hand.” Ps. 73:23

Dawid rus in hierdie oortuiging: “Vlieg ek na die ooste, of gaan woon ek in die verre weste, ook daar lei u hand my, hou u regterhand my vas.” en ook “Ek bly altyd naby U, u hand ondersteun my.” Ps. 139:9-10 en Ps. 63:9

3)    God sal jou beskerm

Soms vernietig ʼn lewensstorm alles, net soos wat die boot waarop Paulus onderweg was na Rome toe heeltemal vernietig was. God het egter Paulus, en almal wat aan boord was, se lewens gered (Acts 27:1-44). Net so belowe Hy om jou te beskerm, selfs al is daar verwoesting om jou.

Ps. 121:5 “Die Here beskerm jou, die Here bewaar jou van alle gevare.”
In Ps. 9:10 lees ons: “Vir die mens wat in gevaar verkeer, is die Here ʼn toevlug, ʼn skuilplek in tye van nood.”

En ook: “U, Here, hou oor ons wag. U sal ons vir altyd teen sulke mense beskerm.” Ps. 12:8

Psalm 91 belowe beskerming vir almal wat Hom ken en liefhet. Daarom kan jy saam met Dawid sê: “Die dag as ek bang word, vertrou ek net op U.” Ps. 56:4

4)    Hy red jou en help jou op

In Ps. 18:17 getuig Dawid: “Van bo af het Hy sy hand uitgestrek en my gegryp, my uit geweldige waters uitgelig.” Dit kan jou getuienis ook wees. God is altyd daar om sy kinders te red uit hulle probleme uit.

Hoor wat belowe Ps. 34:20: “Al word die regverdige ook deur hoeveel rampe getref, die Here red hom uit almal.”

En as die mat onder jou voete uitgeruk word en dit voel asof jou wêreld inmekaar tuimel, belowe die Woord: “Die Here bepaal die koers van die mens met wie se pad Hy tevrede is, en Hy ondersteun hom. As so iemand val, bly hy nie lê nie, want die Here help hom op.” Ps. 37:23

Paulus verseker Timoteus: “Die Here sal my red van elke onheil en my behoue in sy hemelse koninkryk bring. Aan Hom kom die eer toe tot in alle ewigheid! Amen.” Hy gee dieselfde bemoediging aan die Tessalonisense: “Die Here is getrou; Hy sal julle versterk en julle van die Bose bewaar.” 2 Tim. 4:18 en 2 Tes. 3:3

5)    God is aan jou kant en Hy wil die beste vir jou hê

As jy God aan jou kant het word elke probleem ʼn geleentheid vir groei. Jy sal nie bly lê nie. Hy is daar om jou weer op jou voete te help en in die regte rigting te stuur.

“Die dag wanneer ek na U roep om hulp, val my vyande terug. Dít weet ek: God is aan my kant.” Ps. 56:10

“Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ʼn toekoms gee, ʼn verwagting.” Jer. 29:11

“Hulle sal teen jou veg maar hulle sal jou nie oorweldig nie, want Ek is by jou, sê die Here, Ek sal jou red.” Jer. 1:19

“Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet.” Rom. 8:37

Dit is maklik om al hierdie beloftes te vergeet en moedeloos te raak die dag as dinge regtig moeilik raak. Daarom moet ons as gelowiges mekaar help, ondersteun en bemoedig met God se beloftes. (2 Cor. 1:4). Dit is liefde in aksie.

Hou kop bo water en onthou wie jy is. Jy is ʼn Koningskind. Jy staan onder die heerskappy van die Een wat gekom het sodat jy lewe in oorvloed kan hê.


Wees geseënd

Madeleine

©Alle aanhalings in hierdie plasing kom uit die Bybel in Afrikaans 1983-vertaling. Bybelgenootskap van Suid-Afrika tensy anders aangedui

Images by Free-Photos on Pixabay

Volg my op Facebook

Kontakvorm

Naam

E-pos *

Boodskap *

Gewilde plasings van hierdie blog

'n Brief aan my kind

Prysuitdeling

'n Brief aan Ma