Christusfees
Is jou Kersboom al
op? Was jy al dapper genoeg om die winkelsentrums te trotseer opsoek na
Kersgeskenke? Het jy al deur jou resepte boeke begin blaai vir daardie Kersete
wat niemand sal vergeet nie? Dalk selfs al ʼn vrugtekoek gebak?
Ja, die boks met
kersversierings het nog nie eens tyd gehad om behoorlik stof op te gaar nie, of
jy moet hom alweer uit die kas gaan haal, so vinnig gaan die tyd verby. Het jy egter
al vir ʼn paar minute gaan stil sit en wonder waarom jy dit alles doen? Wat vier
jy? Liggies, Kersbome en Kersvader? Of vier jy Christus? Jy sien, die wêreld
het Jesus so stukkie vir stukkie uit Kersfees uit gehaal.
Presies, sal
sommiges sê, dit is omdat Kersfees in die eerste plek nie oor Jesus gegaan het
nie. En hulle is heeltemal reg. Dit is nie ʼn feit dat Jesus op die vyf en
twintigste Desember gebore is nie. Die waarheid is, ten spyte van baie
bespiegelinge en navorsing, weet niemand presies wanneer Jesus gebore is nie.
Inteendeel, daar word beweer dat die Romeinse Keiser, Aurelian, 25 Desember
ingestel het as feesdag vir die songod kultus wat hy geskep het, Sol Invictus, en
dat baie van die tradisies wat ons op Kersdag beoefen van daardie heidense fees
afstam. Hoe het dit dan die dag geword waarop ons Jesus se geboorte herdenk? Een
redenasie is dat vroeë Christene juis besluit het om Christus se geboorte op
hierdie dag te vier om daardeur te bewys dat Jesus as oorwinnaar oor al die
gode uit die stryd getree het
Vir my klink dit
inderdaad soos ʼn oorwinning. Vra enige iemand of hulle weet van Sol Invictus en
hulle sal jou heel waarskynlik nie kan antwoord nie. Almal weet egter dat
Kersfees gevier word om die geboorte van Jesus Christus te herdenk.
Daar is honderde spekulasies
waarop jy gaan afkom as jy eers deeglik begin navorsing doen. Gaan lees gerus
hierdie artikel deur Andrew Mcgowan, Bible History Daily, vir ʼn goed nagevorsde samevatting van al die verskillende
spekulasies rondom die oorsprong van Kersfees.
As die idee dat
Kersfees moontlik sy oorsprong vanuit ʼn heidense fees het, jou ongemaklik laat
voel, moet jy dit liefs nie vier nie. Elkeen moet in sy eie hart oortuig wees
van sy opvatting (Rom. 14:5-6, Col. 2:16).
Hier volg ons
opvatting…
Kersfees is die
een keer in die jaar waarin jy die wêreld se aandag het.
Gaan luister ʼn
slag weer mooi na die woorde van die meeste Kersfees liedjies. Besef jy dat
Kersfees die enigste tyd van die jaar is waarin Christelike musiek oor
winkelsentrums se luidsprekers weerklink? Dan is daar ook nog Kerssang
geleenthede wat mense gewoonlik in groot getalle bywoon. Hierdie is wonderlike
geleenthede om met iemand te gesels oor die pragtige woorde van hierdie
liedjies!
Kersdag is baie
keer die enigste dag waarop Kerklosse familie en vriende bereid sal wees om saam
met jou kerk toe te gaan. Gebruik die potensiaal van daardie jaarlikse Kerkbesoek
ten volle!
Dan is daar baie
mense wat liefde en omgee nodig het oor Kersfees. Hier is jou geleentheid om
uit te reik na daardie nors kollega of jou kluisenaar buurvrou. Bewys Jesus se
liefde aan bedelaars en straatkinders. Wie weet, jy plant dalk nog ʼn saadjie
wat honderdvoudig gaan vrugdra.
Kerstyd is
gewoonlik die tyd waarin ons familie en vriende onthaal en daar geleentheid is
vir lekker rustige saamkuiers. Laat mense Jesus in jou huis sien. Stal die
geboorte- toneel van Christus uit en verduidelik aan die kinders wie elke
karakter is. Lees die verhaal van Jesus se geboorte en laat hulle dan die
storie uitbeeld in ʼn prettige, tuisgemaakte konsert.
Geskenke onder die
boom dra ook ʼn boodskap. Probeer om, as dit moontlik is, ʼn regte boompie te
gebruik.
God die Vader het
aan ons die grootste geskenk gegee deur sy Seun vir ons te stuur as ʼn klein
babatjie wat in ʼn krip, heel waarskynlik uit hout gemaak, geslaap het (Joh.
3:16, Luk. 2:7).
Jesus is as jong
seun deur sy pa, Josef, opgelei as ʼn skrynwerker. (Mark. 6:3).
Later in sy lewe
het Hy vanuit ʼn houtskuit gepreek en aan ons die geskenk van sy boodskap gegee
(Luk. 5:3).
Op die ou end het
Hy aan ʼn houtkruis gesterf en aan ons die geskenk van die ewige lewe gegee (Joh.
19:17, Rom. 6:23, Col. 2:14). Volgens tradisie was die kruis uit Seder of
Sipres hout gemaak.
Ons dink ook aan
die geskenke van goud, wierook en mirre wat deur die wyse manne aan Jesus
gebring is (Mat. 2:11).
Die liggies aan
die Kersboom simboliseer Jesus wat die Lig vir die wêreld is (Joh. 8:12) en dat
ons ons lig moet laat skyn tot verheerliking van God (Mat. 5:16).
Indien jy dus
besluit om wel Kersfees te vier, maak dit dan ʼn fees waarin jy Christus vier. Moenie
saam met die wêreld ʼn Kersfees sonder Jesus vier nie. Vergeet van Kersvader,
elfies, feetjies en tower takbokke.
Vier die Woord wat
mens geword het. Die ware Lig wat na die wêreld toe gekom het. Die Weg, die
Waarheid en die Lewe. (Joh. 1:1, Joh.
1:5, Joh. 1:14, Joh. 14:6)
Maak dit hierdie
jaar en elke jaar ʼn Christusfees.