God se hart in Sy Woord


Ons almal weet dat die Bybel oorspronklik in Hebreeus geskryf is. Dit is egter nie geskryf in die moderne Hebreeus van vandag nie, maar in ʼn antieke Hebreeus wat bestaan het uit prentjies. Elke prentjie het spesifieke betekenisse gehad. Hier is ʼn voorbeeld van die eerste letter van die Hebreeuse alfabet:


Elke letter het ook ʼn numeriese waarde. Daar is dus die antieke Hebreeuse prentjies met hulle betekenisse en ook spesifieke nommers wat in ag geneem moet word as ons na Hebreeuse woorde kyk. Hier is die volledige Hebreeuse alfabet, met elke letter se antieke Hebreeus en numeriese waarde (onthou om van regs na links te lees):


Daar is egter nog een baie belangrike ding wat in ag geneem moet word as ons na die oorspronklike, Hebreeuse Bybel kyk en dit is dat elke woord deur God self geïnspireer is! (2 Tim. 3:16)
As ons nou op só ʼn manier na party van die oorspronklike Hebreeuse woorde in die Bybel kyk, het ons ʼn kosbare openbaring van wat die werklike, God geïnspireerde, betekenisse van daardie woorde is.

Daar is een spesifieke woord waaroor ek vandag wil skryf. Maar voordat ek by daardie woord kan uitkom, moet ek eers na ʼn ander woord kyk:


Die Hebreeuse letters wat gebruik word vir die woord “vader” is Alef en Beyt. As jy egter na die antieke Hebreeuse prentjies van Alef en Beyt kyk, sien jy iets baie interessant. Dan kan die woord “vader” gelees word as: “Die leier van die familie.”
Kom ons voeg vir interessantheid ʼn letter tussen die Alef en die Beyt in:

Die letter wat ek ingevoeg het, is Hey. Die antieke Hebreeuse betekenis van Hey is “asem” wat gewoonlik verwys het na die “gees” of die “hart.” Rofweg beteken dit dus: “Die gees van die vader” of “Die hart van die vader.”
As ons nog ʼn Hey aan die einde van die woord byvoeg sal dit so lyk:

Nog ʼn betekenis van die antieke Hey is “openbaar”. Ons kan dus die bogenoemde woord as volg lees: “Die hart van die vader geopenbaar aan die familie”
En, raai wat… dit is die woord “Ahava”, die Hebreeuse woord vir liefde!


Nou het die woord “liefde” skielik ʼn heel ander betekenis. Dit is die openbaring van die Vader se hart!

Lees nou weer die bekende Johannes 3:16, en jy kan dit soos volg interpreteer: “Want so het die Vader sy hart aan die mense geopenbaar, deurdat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat die wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê.” (John 3:16)

Toe Jesus ons die opdrag gegee het om mekaar lief te hê. Het Hy eintlik aan ons die opdrag gegee om die Vader se hart aan mense te openbaar. Dit is presies wat Hy gedoen het. (John 5:19, John 12:45, John 12: 49-50)

1 Korintiërs 13 beskryf aan ons die Vader se hart. Dit is wie God is. Hy is liefde. (1 Cor. 13, 1 John 4:8)

Sjoe, is dit die liefde wat ons aan ons medemens wys? Is dit hoe ons ons vyande liefhet? Wys ons God se hart vir hulle? Of praat ons maar net? (1 John 3:18)

God moet aan mense geopenbaar word deur ons dade van liefde. Dit kan nie net by praat bly nie. God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees. (Rom. 5:5) Hy het dus Sy hart, Sy asem, Sy Gees, aan ons gegee met die opdrag om dit aan die mense rondom ons te wys.

Dalk kom daar vandag iemand oor jou pad wat nodig het om die Vader se hart te sien.

Jy is die een wat dit vir daardie mens moet wys.


(Dankie aan pastoor Theuns Blom van LFCC wat van die inligting in hierdie plasing met die gemeente gedeel het)

Volg my op Facebook

Kontakvorm

Naam

E-pos *

Boodskap *

Gewilde plasings van hierdie blog

'n Brief aan my kind

Prysuitdeling

'n Brief aan Ma