Krag in gebed
Bid.
Dit is ʼn woord wat Christene goed ken en maklik gebruik.
“Bid asseblief vir so en so.” “Ek sal vir jou bid.” “Kom ons bid saam.”
As jy in ʼn Afrikaanse, Christen huis groot geword het,
was dit deel van jou grootword taal. So deel van ons taal is die woord ‘bid’
dat ons dit soms gebruik sonder om te dink en sonder om dit deur te voer.
Maar in Jakobus 5:16 (Ou Vertaling) lees ons van ʼn ander
tipe bid. Dit is die vurige gebed van ʼn regverdige, wat groot krag het.
Kom laat ons eers seker maak oor die woord ‘regverdige’. As jy met vrymoedigheid
die heiligdom van God kan betree omdat jy vrygespreek en skoon gewas is deur
die bloed van Jesus Christus, is jy ʼn regverdige (Heb 10: 19-22, 2 Cor 5:21, Rom
5:1-2). Jy word nie ʼn regverdige deur eie werke nie (Is 64:6, Eph 2: 8-10). Jy
moet berou toon, ophou sonde doen en weergebore word (John 3:3, 1 Pet 1:23).
Nou die woord ‘vurige’. Die
oorspronklike Griekse woord vir ‘vurige’ in hierdie geval was ‘energeō’ wat volgens Strong dictionary
die volgende beteken: “to be active, efficient: - do, (be) effectual
(fervent), be mighty in, shew forth self, work (effectually in).”
In plein Afrikaans beteken dit om hard te werk. Dit is
dus nie ʼn aframmel lysie voor jy gaan slaap nie!
Ons as regverdiges moet vurige gebede tot God rig vir
verlore siele om gered te word. Ons moet volgens God se wil bid (1 John 5:14-15)
met geloof in die beloftes uit Sy woord. En, ons moet die Heilige Gees toelaat
om deur ons te bid (Rom 8: 26-27). Want, ons stryd is nie teen vlees en bloed
nie en die tyd raak min…
Daar is min dinge wat ons kan verander deur ons
dade. Maar, die vurige gebed van ʼn regverdige het groot krag.
Hier
is ‘n lys van die Bybelverse waarna ek verwys het in hierdie plasing, dit is hier
aangehaal uit die Ou Vertaling, so jy mag dit dalk ook in die Nuwe Vertaling wil
lees:
(Heb 10:19-22) Terwyl ons dan, broeders, vrymoedigheid het om in die heiligdom in te gaan
deur die bloed van Jesus op die nuwe en lewende weg wat Hy vir ons ingewy het
deur die voorhangsel heen, dit is sy vlees, en ons ʼn groot Priester oor die
huis van God het laat ons toetree met ʼn waaragtige hart in volle
geloofsversekerdheid, die harte deur besprenkeling gereinig van ʼn slegte gewete
en die liggaam gewas met rein water.
(2Kor 5:21) Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat
ons kan word geregtigheid van God in Hom.
(Rom 5:1-2) Omdat ons dan uit die geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur onse
Here Jesus Christus; deur wie ons ook deur die geloof die toegang verkry het
tot hierdie genade waarin ons staan; en ons roem in die hoop op die heerlikheid
van God.
(Jes 64:6) En ons
het almal geword soos ʼn onreine, en al ons geregtighede soos ʼn besoedelde
kleed; en ons het almal verdor soos blare, en ons ongeregtighede het ons
weggevoer soos die wind.
(Eph 2:8-9) Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself
nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem
nie.
(Joh 3:3) Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand
nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.
(1Pet 1:23) want
julle is wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur
die lewende woord van God wat tot in ewigheid bly.
(1Joh 5:14-15) En dit is die vrymoedigheid wat ons teenoor Hom het, dat Hy ons verhoor as
ons iets vra volgens sy wil. En as ons weet dat Hy ons verhoor, dan weet ons
dat, wat ons ook al vra, ons die bedes verkry wat ons van Hom gevra het.
(Rom 8:26-27) En net so kom ook die Gees ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat
ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike
sugtinge. En Hy wat die harte deursoek, weet wat die bedoeling van die Gees is,
omdat Hy ooreenkomstig die wil van God vir die heiliges intree.