God maak op jou staat

Dit was ʼn baie belangrike boodskap wat Dick King moes oordra aan die bevelvoerder in Grahamstad. Versterking vir die troepe was dringend nodig. Mense se lewens was op die spel. Binne slegs tien dae het hy ʼn afstand van 965km te perd afgelê deur die ongerepte Natalse landskap. Hy het homself net ʼn paar ure slaap elke aand gegun. Meer as een keer was hy in doodsgevaar. Hy was honger en uitgeput. Maar hy kon nie moed opgee nie en daar was nie sprake van omdraai nie. Die boodskap wat aan hom toevertrou is, was te belangrik. Mense het op hom staat gemaak en hy was indirek verantwoordelik vir hulle lewens.

Min van ons moes al ʼn boodskap oordra wat die verskil tussen lewe en dood gaan maak, maar ek is seker daarvan almal wat hier lees moes al een of ander tyd ʼn belangrike boodskap oordra. As iemand ʼn boodskap aan jou toevertrou het, is dit jou verantwoordelikheid om seker te maak die boodskap word oorgedra.

Elke weergebore Christen loop egter met die belangrikste boodskap van alle tye in hulle harte rond. ʼn Boodskap wat die verskil tussen lewe en dood gaan maak. Dit is die boodskap van versoening.

“Die boodskap van versoening bestaan daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en mense hulle oortredinge nie toereken nie.” 2 Kor. 5:19a

Ken jy daardie boodskap?

Dan het jy ʼn verantwoordelikheid, want die vers eindig met die volgende sin:

“Die boodskap van versoening het Hy aan ons toevertrou.” 2 Kor. 5:19b

Ons het dus ʼn boodskap om oor te dra. God self het hierdie boodskap aan ons toevertrou. Indirek is ons verantwoordelik vir mense se lewens. Net soos Dick King moet ons soms deur ongerepte landskappe sukkel, raak ons moeg en bevind ons selfs in doodsgevaar ter wille van hierdie boodskap. Ons kan egter nie moed opgee nie. Die boodskap is te belangrik.

Jesus Christus het ons die opdrag gegee om hierdie boodskap oor te dra. (Matt. 28:19)

Iewers, op jou pad, is daar iemand aan wie hierdie boodskap oorgedra moet word. Dit is dalk iemand met wie jy elke dag te doen het of iemand wat jy nooit weer gaan sien nie. ʼn Familielid, ʼn vriend, iemand van wie jy dalk nie so baie hou nie… dit maak nie saak nie… die boodskap is aan jou toevertrou.

Ek het eenmaal na die getuienis van ʼn Moslem, wat tot bekering gekom het, geluister. Hy het begin huil en gesê: “Why do you keep Jesus to yourself?”

Hierdie woorde het my diep geraak. Waarom hou ons Jesus vir onsself? Daar is verskeie redes. Ons wil nie op tone trap nie, is bang vir wat mense van ons gaan dink of glo ons is nie bekwaam genoeg om te getuig nie. Dit is alles leuens van die vyand. Die waarheid is dat daar mense is wat desperaat soek na die hoop waarmee jy in jou hart rondloop.

Elke Christen het die opdrag om te getuig. So ernstig is God oor hierdie opdrag dat hy selfs vir ons ʼn Helper gestuur het. Sy eie Heilige Gees!

Die Heilige Gees herinner ons aan alles wat Jesus gesê het. (John. 14:25-26)

Hy gee ons krag om te getuig. (Acts. 1:8)

Hy gee ons wysheid. (Acts. 6:10, 1 Cor. 2:13)

Hy maak ons bekwaam. (2 Cor. 3:5-6)

Hy maak ons dapper. (2 Tim. 1:7)

Om die waarheid te sê is dit nie jou geleerde woorde wat mense gaan oortuig nie, maar die boodskap self, deur die kragtige werking van die Heilige Gees. (1 Cor. 2:4-5)

Ons het dus geen verskoning om Jesus vir onsself te hou nie. Ons het ʼn opdrag. ʼn Boodskap wat aan ons toevertrou is.


Gaan jy jou verantwoordelikheid nakom? 


Volg my op Facebook

Kontakvorm

Naam

E-pos *

Boodskap *

Gewilde plasings van hierdie blog

'n Brief aan my kind

Prysuitdeling

'n Brief aan Ma