Nuttelose wapens

Was jy ook al in ʼn situasie waar die een na die ander krisis opduik wanneer jy dit die minste nodig het? Of, partykeer voel dit net asof die een slegte ding na die ander met jou gebeur.

Soms is hierdie krisisse net groot genoeg om jou behoorlik te irriteer, maar baie keer is dit ernstiger dinge, iets wat dalk ʼn impak op die res van jou lewe kan hê. Irritasie is aansteeklik, dit veroorsaak konflik. Dit kan mense dinge laat sê of doen wat eerder maar moes gebly het. Jy probeer hard om geduldig te bly of nie op te gee nie, maar, dit is kompleet asof iemand aanhou stamp totdat jy oor die afgrond tuimel.

Dit is aanslae van die vyand, wapens wat teen jou opgerig word om God se planne in die wiele te ry.

Paulus skryf dat ons ʼn stryd voer teen bose magte (Eph 6:12). Nee, dit is nie een of ander ekstreme idee waarmee ek nou uitval nie. Dit staan in die Bybel. Daarom skryf hy ook verder dat ons die volle wapenrusting van God moet aantrek sodat ons weerstand kan bied in die dag van onheil (Eph 6: 13-17). My idee is egter nie om jou bang te praat nie, inteendeel, ek het op ʼn wonderlike belofte afgekom wat ek baie graag met jou wil deel…

In Jes 54:17 staan daar “Elke wapen wat teen jou gesmee word, sal niks uitrig nie; en elke tong wat teen jou opstaan in die gereg, sal jy weerlê. Dit is die erfdeel van die knegte van die Here en hulle geregtigheid wat uit My is, spreek die Here.” (Is 54:17)
Die woord wat my laat verder dink het oor hierdie versie, is die woord erfdeel. Jy sien, dit sal regtig wonderlik wees as die vyand se aanslae teen my niks uitrig nie en as ek verbale aanvalle sou kon weerlê met bonatuurlike wysheid. Maar is dit my erfdeel?

Kom ons begin met die belofte wat God aan Abraham gemaak het. Behalwe dat God belowe het om hom ʼn groot nasie te maak en te seën, het Hy ook belowe om vir hom ʼn skild te wees (Gen 15:1). Hierdie beskerming van God is dus die nageslag van Abraham se erfdeel. Maar, ek is mos nie deel van Abraham se nageslag nie, of is ek?

Lees baie mooi wat sê Gal 3:29: “En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename”

Meer duidelik as dít kan jy nie kry nie!

Het jy dit gesnap? Ons is erfgename! Van wat? Die belofte dat geen wapen van die vyand iets teen ons sal uitrig nie en dat ons elke tong wat teen ons opgerig word, sal kan weerlê.

Maar ons is nie net erfgename as die nageslag van Abraham nie. Ons word ook erfgename van God genoem omdat ons, in Christus, Sy kinders is (Rom 8:16-17, Gal 4:7). En, ons geregtigheid kom van God af deur Sy seun Jesus Christus.

So, ons mág hierdie belofte aanneem en dit glo. Onthou, daar staan nie geskryf “geen wapens sal teen jou gesmee word” nie. Die aanslae sal kom, daarvan kan jy seker wees. Maar, as die vyand jou aanval, mag jy Jes 54:17 se belofte bid. Dan, as jy dit glo, kan jy verseker weet, sy wapens sal niks uitrig nie.


Ek is so bly ek is Sy kind!

Volg my op Facebook

Kontakvorm

Naam

E-pos *

Boodskap *

Gewilde plasings van hierdie blog

'n Brief aan my kind

Prysuitdeling

'n Brief aan Ma