Lewenswater


Lees ʼn bietjie die volgende twee versies met aandag en let op die duidelike verband tussen hulle. In die eerste, uit die Ou Testament, word van God gepraat en in die tweede, uit die Nuwe Testament, word verwys na Jesus:

“U is die bron van die lewe, deur U lig lewe ons.” Ps. 36:9-10
“In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense.” Joh. 1:4

Is dit nie inderdaad ʼn onweerlegbare bewys dat Jesus God is nie?

Daar is ʼn paar sulke verse uit die Ou en die Nuwe Testament wat met mekaar verband hou en wat bewys dat Jesus God is, maar waarop ek in hierdie plasing wil fokus is die titel: Bron van die lewe.

Ons lees in Jer. 17:13 dat dié wat vir God verlaat, die bron van die lewe verlaat en in Jer. 2:13 kla God die volk aan: “My volk het twee sondes begaan: Hulle het My, die bron van lewende water, verlaat, en hulle het vir hulle waterbakke uit klip gekap, waterbakke wat gebars is en nie water hou nie.”

Dit klink soos ʼn baie dom keuse om te maak. Waarom sal ʼn mens probeer water drink uit stukkende klipbakke as jy dit direk van die fontein af kan drink? En tog is dit wat baie mense doen. Hulle gaan soek lewende water oral behalwe by die Bron. Hulle kyk die Bron mis en drink water wat nooit hulle dors sal kan les nie.

Jesus het vir die Samaritaanse vrou gesê: “maar wie van die water gedrink het wat Ek hom sal gee, sal in alle ewigheid nooit dors kry nie. Nee, die water wat Ek hom sal gee, sal in hom ʼn fontein wees met water wat opborrel en vir hom die ewige lewe gee.” Joh. 4:14

Elke oggend van die Huttefees (Sukkot) is daar ʼn spesiale water seremonie in Jerusalem gehou. Die priesters sou water uit die Siloambad skep met ʼn goue beker en dit dan oor die altaar gaan uitgooi terwyl mans en vroue volg met vrolike danse en musiek. Tydens die seremonie sou hulle die volgende vers uit Jes. 12:3 opsê: “Met blydskap sal julle water skep uit die fonteine van redding.” Is.12:3.

In Hebreeus klink hierdie vers so: “Ushavtem mayim b’sason mimayney haYeshua

Die Hebreeuse woord vir redding of “salvation” is baie naby aan die Hebreeuse naam vir Jesus, Yeshua.

Die Siloambad was vir die volk simbolies van hierdie fonteine van redding. Min het hulle besef dat die ware fontein van redding, die Bron van lewende water, lewensgroot daar tussen hulle staan! Dit is geen wonder dat Jesus op die laaste dag van hierdie fees uitgeroep het: “As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink!” nie.

Saam met die uitnodiging is daar ʼn belofte: “Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê: Strome lewende water sal uit sy binneste vloei. Hiermee het Hy na die Gees verwys, want die mense wat tot geloof in Hom kom, sou die Gees ontvang.” Joh. 7:37-39
Die Skrif waarna Jesus hier verwys kry ons in Jesaja 58:11b: “Jy sal wees soos ʼn tuin met volop water, soos ʼn fontein waarvan die water nie opdroog nie.” Is. 58:11

Hierdie is nie ʼn toevallige boodskap nie. Toe die Heilige Gees dit op my hart geplaas het om te skryf oor Jesus as die Bron van lewende water, het ek nie geweet van die water seremonie tydens Sukkot nie! Ek was al aan die skryf toe ʼn vriendin ʼn e-pos van die “Messianic Bible Society” vir my aanstuur waarin die water seremonie verduidelik word (en nee, sy het glad nie ʼn benul gehad waarmee ek besig is nie). Vir die eerste keer het ek toe verstaan waarom Jesus die woorde van Joh. 7:37 juis tydens Sukkot uitgeroep het. Maar dit was nie al nie, ek het toe ook verstaan waarom die Heilige Gees wou hê ek moet juis nou daaroor skryf. Sukkot word juis nou gevier!

As jy dus nog steeds die Bron van lewende water ignoreer en probeer om uit stukkende klipbakke te drink is hierdie boodskap dalk spesiaal vir jou! Dit is die stem van die Herder wat na sy een verlore skapie roep. As jy daardie skapie is, is dit nou tyd om te antwoord.



Die lewende water is in oorvloed beskikbaar (Joh. 10:10, Ps. 36:8-11). Dit sal ʼn borrelende fontein in jou word en jy sal wees soos ʼn boom wat by waterstrome geplant is, waarvan die blare nie verdroog nie en wat op die regte tyd vrugte dra (Jer. 17:8) Jy kan slegs vrugte dra as jy in Jesus bly en Hy in jou (Joh. 15:4-5).

Droogte
Ek is dors,
maar jy is nie.
Om my hart ʼn rou kors,
maar jy, bly hier.

Wat drink jy?
Daar is droogte!
Waar kan ek water kry
deur die breë poorte?

Jy’s ʼn boom
by waterstrome.
Ek jaag net ʼn droom,
val oor my eie krone.

Ek bly dors.
Jy hou aan bot.
My hart is ʼn gemors.
My vrugte is vrot.

Ek kort water.
Jy is nog hier.
Moenie wag tot later!
Het Iemand jou gestuur?

ʼn Nou poort.
So lei jy my.
Gered van ʼn sieledood.
Die droogte is verby.

Moenie wag tot later, want later kom dalk nooit. As jy iemand moet vertel van die Bron van lewe, doen dit vandag. As jy nog by die Bron van lewe moet uitkom, doen dit vandag. Jesus het gesê: “Dit verseker Ek jou: As iemand nie uit water en Gees gebore word nie, kan hy nie in die koningkryk van God kom nie.” Joh. 3:5. Hy praat hier van die wedergeboorte wat plaasvind as jy lewende water by die Bron van lewe drink. As jy nog nie die keuse gemaak het om Jesus Christus as jou Verlosser aan te neem nie, volg gerus hierdie skakel en gaan lees hierdie bladsy: Salvation explained.

Seëngroete
Madeleine

Volg my op Facebook

Kontakvorm

Naam

E-pos *

Boodskap *

Gewilde plasings van hierdie blog

'n Brief aan my kind

Prysuitdeling

'n Brief aan Ma