'n Lening aan God

Mense raak vinnig ongemaklik as hulle gevra word om te gee. Kollekte, bydra, tiende, offerande, watter term ook al gebruik word, moet tog net nie te veel daarop hammer nie. Dit is die tema wat predikers gewoonlik met groot versigtigheid aanpak of liefs vermy. Tydens ʼn vyf jaar studie, wat sy hoogtepunt in 2013 bereik het, is bevind dat slegs 10-25 persent van families in ʼn gemeente hulle tiendes gee.

Tog is daar amper 2000 verwysings in die Bybel oor die onderwerp van gee. Jesus het meer daarna verwys as na geloof en gebed saam. So wat is dan die probleem?

Daar is blykbaar twee hoof redes waarom mense nie gee nie. Die grootste van die twee is dat mense nie weet waarom hulle moet gee nie. Is tiendes en offerandes nie net op die Ou Testament van toepassing nie? Die tweede rede is dat mense bang is hulle gaan verlies lei as hulle van hulle geld of besittings weggee. Hulle is bang hulle kan dit nie bekostig nie.

Daarom het ek besluit om in die Bybel te gaan soek vir antwoorde op hierdie twee vrae.

Hoekom moet ek gee?

Die antwoord hierop is eenvoudig. As kind van God, is dít wat van jou verwag word.
In 1 Joh. 3:17 word die vraag gevra: “Wie aardse besittings het en sy broer sien gebrek ly, maar geen gevoel vir hom het nie – hoe kan die liefde van God in hom wees?”

Wat is dit wat kinders van God te doen staan? “Is dit nie dat jy vir dié wat honger is, van jou brood gee nie, dat jy aan die armes en die dakloses ʼn blyplek gee nie, dat wanneer jy iemand sonder klere sien, jy vir hom klere gee nie, dat jy jou medemens nie aan sy lot oorlaat nie?” (Is. 58:7)

Die eerste kerk het hierdie konsep goed verstaan, “Nie een van hulle het gebrek gely nie, want dié wat grond of huise besit het, het dit verkoop en die verkoopprys daarvan gebring en vir die apostels gegee. Dié het dit dan uitgedeel volgens elkeen se behoefte.” (Acts 4:34)

Jesus het gesê “want ek was honger, en julle het My iets gegee om te eet; Ek was dors, en julle het My iets gegee om te drink; Ek was ʼn vreemdeling, en julle het My gehuisves; Ek was sonder klere, en julle het vir My klere gegee; siek, en julle het My verpleeg; in die tronk, en julle het My besoek,” met die verduideliking dat dit is asof jy aan Hóm gee wanneer jy aan behoeftiges gee. (Mat. 25:35)

So, dit is duidelik dat God se kinders moet sorg vir minder bevoorregtes. Maar, wat dan van tiendes en offerandes aan die kerk? Het dit nie weggeval met die nuwe verbond nie?

Kom ons kyk eers waar kom dit vandaan…

Die eerste tiende is deur Abraham aan Melgisedek gegee in Gen. 14:20. Later, in Gen. 28:22, het Jakob aan God ʼn tiende van sy opbrengs belowe. Die gee van tiendes en offerandes is deur Moses as wet van God ingestel en was bedoel om die priesters, Leviete, weduwees, weeskinders en vreemdelinge te onderhou (Lev. 27:30, Num. 18:21, Deut. 14:28-29). Die Leviete moes ʼn tiende van hulle tiendes aan die tempel gee (Num. 18:26).
Ons sien dus dat ʼn tiende van die Israeliete se opbrengs aan God behoort het. In Mal. 3:8 vra die volk: “Waarvan beroof ons U?” en die antwoord is, “Van tiendes en offergawes. Daar rus alreeds ʼn vloek op julle en tog bly julle my beroof; die hele nasie doen dit. Bring die volle tiende na die voorraadkamer toe sodat daar iets te ete in my huis kan wees.”

Maar, dit was tog ʼn Ou Testamentiese wet, die tiendes was bedoel om die Leviete te onderhou aangesien hulle lewens aan werk in die tempel gewy was en hulle geen grond besit het nie. Hoe is dit nou op ons van toepassing? Is daar enige verse in die Nuwe Testament wat daarop dui dat ons nog tiendes moet betaal?

Die antwoord is, ja, daar is.

Die belangrikste een is sekerlik Mark 12:17. Die Fariseërs het mense na Jesus toe gestuur met ʼn strikvraag. Moes daar aan die keiser belasting betaal word? Sou sy antwoord ‘ja’ wees, het Hy die Israeliete kwaad gemaak. ‘Nee’, sou weer die Romeine op sy spoor gesit het. Jesus se antwoord haal egter die wind uit hulle seile uit: “Gee dan aan die keiser wat aan die keiser behoort, en aan God wat aan God behoort.”

As Fariseërs het hulle baie goed geweet wat dit is wat aan God behoort het. Dit was hulle tiendes.

Paulus het aan die Korintiërs geskryf: “Weet julle nie dat dié wat tempeldiens verrig, uit die tempel lewe en dat dié wat die altaar bedien, uit die offers hulle deel ontvang nie? So het die Here ook bepaal dat dié wat die evangelie verkondig, hulle lewensonderhoud uit die verkondiging van die evangelie moet ontvang.” (1 Cor. 9:13-14) Paulus hét dan ook finansiële ondersteuning van gelowiges ontvang (Phil. 4:15-18), maar hy het egter gekies om nie op hierdie voorreg aanspraak te maak nie, en in sy eie lewensonderhoud te voorsien (1 Cor. 9:15).

Ons lees op verskeie plekke in die Nuwe Testament dat gelowiges geld gestuur het aan die die gemeente in Judea (Jerusalem en omgewing) (2 Cor. 8:4-5, Gal. 2:10, Acts 11:29-30).

As kinders van God word dit dus ook van ons verwag om aan die kerk te gee en ʼn bydra te lewer vir die verkondiging van die evangelie. Ons moet dus nie net vir minderbevoorregtes gee nie, maar ook vir die Koninkryk.

Kan ek dit bekostig om te gee?


Ja, jy kan, want “Wie hom oor ʼn arm mens ontferm, gee ʼn lening aan die Here, en Hy sal hom ten volle vergoed.” (Prov. 19:17) en “Gee, en vir julle sal gegee word: ʼn goeie maat, ingestamp, geskud en propvol, sal hulle in julle hande gee.” (Luk. 6:38)

“Vereer die Here met offerandes uit al wat jy besit en met die beste uit jou oes, dan sal jou skure oorvol wees en jou parskuipe oorloop van die wyn.” (Prov. 3:9)

“Gee vryelik aan jou broer wat arm is, en moenie sleg voel omdat jy vir hom gegee het nie, want juis omdat jy vir hom gee, sal die Here jou God jou voorspoedig maak in alles wat jy doen en aanpak.” (Deut. 15:10)

“Bring die volle tiende na die voorraadkamer toe sodat daar iets te ete in my huis kan wees, en toets My hierin, sê die Here die Almagtige. Toets My of Ek nie die vensters van die hemel vir julle sal oopmaak en vir julle reën sal uitgiet, meer as wat julle kan gebruik nie. Ek sal die sprinkane keer dat hulle nie die oes op julle land vernietig nie, en dat julle wingerde nie sonder vrugte is nie, sê die Here die Almagtige.” (Mal. 3:10-11)

As ek hierdie verse lees, dan lyk dit vir my asof ons eerder moet vra: “Kan ek dit bekostig om nié te gee nie?”

Die goeie nuus is dat jy nie meer hoef te gee as wat jy kan nie. God kyk na jou hart. Die arm weduwee het slegs twee muntstukkies in die offergawekis gegooi, maar Jesus het geweet sy gee meer as die ryk mense wat baie geld ingegooi het (Mark. 12:41-44). Hy het gesê as jy armes help moet jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie, jou Vader wat sien wat verborge is sal jou wel beloon (Mat. 6:3-4).

Paulus het geskryf: “Elkeen moet gee soos hy hom in sy hart voorgeneem het, nie met teensin of uit dwang nie, want God het die blymoedige gewer lief. En God is by magte om aan julle alles in oorvloed te skenk, sodat julle in alle opsigte altyd van alles genoeg kan hê en volop kan bydra vir elke goeie werk.” (2 Cor. 9:7-8)

Deur te gee maak jy vir jouself skatte in die hemel bymekaar (Mat. 19:21, Mat. 6:19-21, Luk. 12:33-34).

Deur te gee is jy gehoorsaam aan God se Woord.

Deur te gee neem jy ʼn geloofstap en maak jy jou lewe oop vir die beloftes van God wat daarmee gepaard gaan.

Maar die belangrikste rede van alles… deur te gee ervaar mense God se liefde deur jou en bewys jy jou dankbaarheid teenoor ʼn God wat alles gegee het…



So, gee met liefde en uit dankbaarheid.
God sal vir jou sorg.


©Alle aanhalings in hierdie plasing kom uit die Bybel in Afrikaans 1983-vertaling. Bybelgenootskap van Suid-Afrika


All images: Pixabay

Volg my op Facebook

Kontakvorm

Naam

E-pos *

Boodskap *

Gewilde plasings van hierdie blog

'n Brief aan my kind

Prysuitdeling

'n Brief aan Ma