Daardie spesiale verse...

Het jy ook ʼn Bybelvers wat spesiaal joune is? ʼn Belofte waaraan jy vashou? Dalk het jy, soos ek, ʼn paar sulke verse. Beloftes wat die Here aan jou gemaak het. Daardie verse wat soos ʼn kers in jou donkerste tye aangesteek is en vir jou hoop gee.

Vandag wil ek skryf oor daardie ligbakens op jou lewenspad. Ek wil hê jy moet hulle weer gaan opsoek en weer lees en weer jou eie, spesiale verse maak. En dan maak jy dit sigbaar. Skryf dit uit of druk dit uit of verf dit of kerf dit in hout of skryf dit in klei of mosaïek of kruissteek of wat ook al jou smaak is. Dan vertoon jy dit op so ʼn manier dat jy dit duidelik en gereeld kan sien en jy verklaar dit hardop en herinner die Here daaraan.

Want jy mag.

Dawid het dit gedoen. Hy het gesê: “Onthou tog u woord aan my, die woord waarop U my laat hoop het.” (Ps. 119:49)
In Jes. 62:6b staan daar: “Julle wat die Here aan sy beloftes moet herinner, julle moenie stilbly nie.” (Is. 62:6)
Hoekom? Omdat die Here dalk Sy beloftes vergeet het? Beslis nie!

Elke keer as jy die Woord hardop verklaar gebeur daar ʼn paar dinge…

Jy verklaar jou geloof. (Ps. 130:5)
Jy voed jou siel met lewensbrood. (Mat. 4:4)
Jy maak jou gedagtes nuut en vol van alles wat waar, reg en mooi is. (Rom. 12:2, Phil. 4:8)
Jy neem die swaard van die Gees op. (Eph. 6:17)

En, wat jy dalk nie weet nie, is dat jy ook ʼn vuur aansteek in die geestelike wêreld.
“My woord is soos vuur, sê die Here, soos ʼn hamer waarmee klippe stukkend gebreek word.” (Jer. 23:29)

Die engele staan gereed om jou te help en hulle reageer op Sy woord. (Ps. 103:20)

Om die waarheid te sê, die hele skepping reageer op Sy woord!
“Die reën en die sneeu kom uit die hemel uit en dit gaan nie daarheen terug nie maar deurweek die aarde en laat die plante bot en vrugte dra, sodat daar saad is om te saai en brood om te eet. So sal die woord wat uit my mond kom, ook wees: dit sal nie onverrigter sake na My toe terugkeer nie, maar dit sal doen wat Ek gedoen wil hê en tot stand bring waarvoor Ek dit gestuur het.” (Is. 55:10-11)

Daardie Bybelversies is Sy asem. (2 Tim. 3:16) Dit lewe. (Heb. 4:12) Dit was van die begin af daar, alles is daardeur geskape. Dit is God self. (Joh. 1:1-3)

So, onthou, daar is krag in elke woord van daardie beloftes wat jy hardop uitspreek.

Daardie woorde is die waarheid en Hy sal jou nie teleurstel nie. (Ps. 12:6-7, Is. 50:7)

Jy het ʼn wapen. ʼn Lewende, brandende swaard.

Gebruik dit. 

Volg my op Facebook

Kontakvorm

Naam

E-pos *

Boodskap *

Gewilde plasings van hierdie blog

'n Brief aan my kind

Prysuitdeling

'n Brief aan Ma