Om te deel...

Ek in God en God in my.

Wat beteken dit?

 ‘n Dooie tak wat onder ‘n vrugteboom lê beteken vir ‘n boer niks. Dit kan nie meer vrugte dra nie want dit is nie meer deel van die boom nie. Die tak is nie in die boom nie en die boom is nie in die tak nie. Dit is onmoontlik vir daardie tak om vrugte te dra. So wat doen die boer? Hy tel die tak op en gooi dit eenkant op ‘n hoop saam met ander dooie takke om verbrand te word.

In Johannes 15 verwys Jesus na Homself as die wingerdstok en ons as die lote wat nie kan vrugte dra as ons nie in Hom en Hy in ons bly nie.

Maar wat beteken dit om in Hom te bly?

Die Complete Jewish Bible vertaal Joh. 15:5 soos volg (eie klem): “I am the vine and you are the branches. Those who stay united with me, and I with them, are the ones who bear much fruit; because apart from me you can’t do a thing.”
Dit beteken dus om verenig te wees. Om deel te wees van Jesus.
King James Version gebruik die woord “abide”. M.a.w om te bly, te woon. Soos wat jy in jou huis woon.

‘n Mens sou dus kon sê dit beteken om deel te wees van Jesus deur in Hom te woon en Hy in ons.

Nou hoe doen ‘n mens dit?

Volgens Johannes is daar vyf maniere waarop ons kan weet dat ons in God bly en Hy in ons (as jy met jou muis oor die teksverse sweef of op jou foon daarop kliek, sal die teksvers verskyn):

Deur te bely dat Jesus die seun van God is (1John. 4:15)

Deur in God se liefde te bly (1John. 4:16)

Deur mekaar lief te hê (1John. 4:12)

Deur Sy gebooie te gehoorsaam. (1 John. 3:24) Dit doen ons deur vir Hom en mekaar lief te wees.

Deurdat Hy sy Gees aan ons gee (1 John. 3:24, 4:13)

Om terug te kom na die tak en die vrugteboom. Daardie tak hoef nie veel te doen om vrugte te dra nie. Al wat dit moet doen is om deel van die boom te bly. Terwyl dit deel van die boom is, vloei die boom se lewenssap deur hom wat tot gevolg het dat die tak groei en vrugte dra. Al die krag kom dus van die boom af. Net so kom ons vermoë om te groei en vrugte te dra van God af. Al wat ons hoef te doen is om deel van Hom te bly sodat Hy deel van ons kan bly.

Die moeilikheid begin wanneer daardie tak dink hy het nie meer die boom nodig om vrugte te dra nie. Sonder die boom se lewensap in hom, verdroog hy en word waardeloos.

Jy hoef nie ‘n dooie tak te wees nie. Jesus sê: “As julle in My bly en My woorde in julle, vra dan net wat julle wil hê, en julle sal dit kry. My Vader word juis daardeur verheerlik dat julle baie vrugte dra en my dissipels is.”

Woon Jesus se lewens-woorde in jou?
Is jy deel van Hom?


Wat ‘n groot voorreg om ‘n loot aan die Wingerdstok te wees. 

Volg my op Facebook

Kontakvorm

Naam

E-pos *

Boodskap *

Gewilde plasings van hierdie blog

'n Brief aan my kind

Prysuitdeling

'n Brief aan Ma