Julle ken die pad...

In Johannes 14:1-6 vertel Jesus aan sy dissipels dat hy na die Vader toe gaan om vir hulle ʼn plek gereed te maak en dat hulle reeds die pad na die Vader toe ken. Op hulle verbasing oor hierdie stelling verduidelik Hy dat Hy die pad is. Die weg, die waarheid en die lewe. Daar is geen ander manier om by die Vader uit te kom nie.

Dit is wat ons glo. Dit is waarom ons Christene genoem word. Ons ken die Weg na God. Die enigste manier om met Hom versoen te wees en in die Hemel toegelaat te word.

Die redenasie dat dieselfde God wat ons aanbid, ook in ander gelowe, onder andere, Hindu, Budisme en Islam aanbid word, is al jare oud. Daar word beweer dat hulle net ander paaie na God toe ken en dat Christus nie die enigste weg is nie.

Deesdae is die nuutste toevoeging tot hierdie lysie, Toordokters, of Sangomas, soos wat baie van ons hulle ken. Om die redenasie aan te voer dat Toordokters vir God aanbid as hulle Here is, in my opinie, belaglik. Wat toordokters doen, is presies die dinge wat God verafsku en ons beveel om nie te doen nie! Hulle raadpleeg afgestorwenes en kannaliseer bose geeste. Hulle maak gebruik van toorwoorde en plaas towerspelle op voorwerpe. Die muti wat hulle maak bevat dikwels liggaamsdele van mense. In Deut. 18:10-13, maak God dit baie duidelik dat hy al hierdie dinge verafsku!

Oor die ander drie gelowe, Hindu, Budisme en Islam, het ek ʼn bietjie navorsing gaan doen om te kyk of hulle wel dieselfde God as ons aanbid.

Kom ons begin met die Hindu geloof. Daar word beweer dat daar 330 miljoen gode is wat deur Hindoes aanbid word. Oor hierdie getal is daar egter nie sekerheid nie. Hulle glo wel dat daar een groot opperwese is, genaamd Brahman of Krishna, wat alles geskape het. Net soos wat daar leiers van verskillende range aangestel word in verskillende departemente van ʼn land, het Brahman verskillende gode in verskillende aspekte van die lewe aangestel om hom te help om oor die heelal te regeer. Daar is byvoorbeeld die god Surya wat vir die son verantwoordelik is en die godin Saraswati wat verantwoordelik is vir kennis.
Die God wat ons, as Christene aanbid, het nie ander gode nodig om Hom te help nie (Jer. 32:17, Rom. 1:20, Rev. 1:8, Is. 40:28, Ps. 147:5). Hy is almagtig en alom teenwoordig (Jer. 23:24, Col. 1:17, Is. 57:15). Hy sê self dat daar geen ander God is nie en Hy verbied ons om enige ander gode te aanbid (Is. 45:5, Ex. 20:3-5).
Op grond hiervan dink ek is dit veilig om tot die slotsom te kom dat die Hindoes se Brahman en ons God nie dieselfde wese is nie.

Wat die Budiste aanbetref, haal ek die volgende stelling aan vanaf www.buddhanet.net/ans73.htm:
“Do Buddhist believe in god?
No, we do not. There are several reasons for this. The Buddha, like modern sociologists and psychologists, believed that religious ideas and especially the god idea have their origin in fear. The Buddha says: ‘Gripped by fear men go to the sacred mountains, sacred groves, sacred trees and shrines.’”
Hoe kan die stelling gemaak word dat hulle in dieselfde God as ons glo as hulle dan nie eens in ʼn god glo nie?

Islam is ʼn bietjie meer ingewikkeld. Hulle glo wel in die God wat ons leer ken uit die Ou testament. Hulle aanvaar die Torah (die eerste vyf boeke van die Bybel) asook meeste van die profete wat ons ken. Hulle glo egter nie dat Jesus die seun van God is wat aan die kruis gesterf het om vir ons sondes te betaal nie. Hulle erken Hom as ʼn baie belangrike profeet maar glo nie dat Hy die Weg, Waarheid en Lewe is nie. Hulle wy hulle lewe daaraan toe om die vyf pilare van hulle geloof na te kom sodat hulle hemel toe kan gaan. Selfs dan kan hulle nog nie met sekerheid sê dat God hulle wel gaan toelaat nie. 
Ons weet wat die rede vir hierdie twyfel is. Dit is onmoontlik om op grond van jou dade vrygespreek te word. God is net eenvoudig te Heilig (Rom. 3:23, Eccles. 7:20, James 2:10, 1 John 1:8). Net soos wat een vrot eier ʼn hele koek sal bederf, al is die res van die bestanddele perfek, net so maak een klein sonde jou onwaardig om voor God te verskyn. Dit is waarom Hy in Sy groot liefde en genade Homself as sonde offer vir ons gegee het (John 3:16, Rom. 3:23-26, Rom. 5:1-2).

Moet ons mense van ander gelowe aanvaar en respekteer? Die antwoord is ʼn eenvoudige ja. Dit is wat van ons as Christene verwag word. Ons moet ons medemens liefhê en sover dit van ons afhang in vrede met almal saamleef (Mark 12:30-31, Rom. 12:18, Heb. 12:14).

Dit is nóg ʼn eienskap wat ons onderskei van ander gelowe. Hulle tree meestal aggressief op teenoor mense buite hulle geloof.

Jesus het vir almal se sonde betaal en ons die opdrag gegee om hierdie boodskap aan al die nasies te vertel (Mat. 28:19, 1 Peter 3:15).

Ons moet in liefde uitreik na mense van ander gelowe, nie omdat ons met hulle saamstem nie, maar juis omdat ons die Weg na die enigste ware God toe ken.


Volg my op Facebook

Kontakvorm

Naam

E-pos *

Boodskap *

Gewilde plasings van hierdie blog

'n Brief aan my kind

Prysuitdeling

'n Brief aan Ma