'n Nuwejaarsvoorneme...

Ek wil graag die volgende storie met julle deel…

Daar was eenmaal ʼn man met ʼn groot, deftige huis. Hy het Jesus genooi om saam met hom in die huis te kom woon en het die heel beste gastekamer vir Hom gegee. Een oggend was daar ʼn klop aan die deur. Die man het die deur oopgemaak en die duiwel het deur die opening gebars en sy hele huis vernietig. Oral was daar verwoesting, behalwe vir die gastekamer. Baie ontsteld het die man vir Jesus gevra hoe Hy so iets kon toelaat. Jesus het geantwoord dat Hy net toegang tot die gastekamer het. Onmiddellik het die man toe vir Jesus die hele boonste verdieping van sy huis gegee. ʼn Week later was daar weer ʼn klop aan die deur. Weereens het die duiwel ingestorm en die hele onderste verdieping van die deftige huis verniel. Weereens was die man baie teleurgesteld dat Jesus nie die duiwel gekeer het nie. Jesus se antwoord was dat Hy net in beheer van die boonste verdieping is en dat díe gedeelte van die huis onaangeraak is. Uiteindelik het die man verstaan dat hy vir Jesus sy hele huis moet gee. Daardie volgende oggend was daar weer ʼn klop aan die deur. Hierdie keer het Jesus self die deur oopgemaak en… daar was niemand nie…
(Verwerk uit Leef die rooiletter lewe deur Harold F Weitsz.)

Stel vir ʼn oomblik jou lewe voor as ʼn huis. Dink aan die verskillende vertrekke van jou lewens-huis. Watter vertrekke word gereeld deur die lewe verinneweer? In watter vertrekke heers daar wanorde? Is dit nie dalk juis daardie vertrekke waar Jesus nie ingelaat word nie? Dan moet jy glad nie verbaas wees as die duiwel homself inlaat en soveel as moontlik skade aanrig nie.

In Psalm 37:5 lees ons die belofte: “Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg.”

Maak dit een van jou nuwejaarsvoornemens hierdie jaar om elke area van jou lewe aan Jesus oor te gee en onder Sy beheer te plaas.

Hy sal mooi daarna kyk.

Volg my op Facebook

Kontakvorm

Naam

E-pos *

Boodskap *

Gewilde plasings van hierdie blog

'n Brief aan my kind

Prysuitdeling

'n Brief aan Ma