Is jy Geestelik?

Daar word vertel dat die teoloog, John Wesley, as klein seuntjie eenkeer vir sy ma gevra het wat presies sonde is. Haar antwoord was die volgende: “Anything that puts the carnal man above the spirit man. Anything that increases the authority of the flesh.”

Sjoe, dit is omtrent ʼn mondvol! Maar dit is vir my ʼn baie akkurate opsomming van wat sonde is. In Gal. 5:19,26 lys Paulus al die praktyke van ons sondige natuur en waarsku ons dat diegene wat hulle aan hierdie dinge skuldig maak nie die koninkryk van God as erfenis sal kry nie.

Maar vir ons wat aan Christus behoort, is daar hoop. Ons het die sondige natuur met al sy hartstogte en begeertes saam met Christus gekruisig. (Gal. 5:24) Dit gebeur met die wedergeboorte. Dit is ʼn wonderwerk, iets wat ons nie uit ons eie kan regkry nie.

Waaroor ek egter vandag wil skryf is die “spirit man” waarvan John Wesley se ma gepraat het. Wat beteken dit om Geestelik te wees?

Dit beteken doodeenvoudig om jou lewe deur die Heilige Gees te leef. Jesus het vir die Samaritaanse vrou gesê: “God is Gees, en die wat Hom aanbid, moet Hom deur die Gees en in waarheid aanbid.” (John. 4:24) Paulus skryf ook aan die Galasiërs: “Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal.” En ook: “Wat ons sondige natuur begeer, is in stryd met wat die Gees wil, en wat die Gees wil, is in stryd met wat ons sondige natuur begeer. Hierdie twee staan lynreg teenoor mekaar, en daarom kan julle nie doen wat julle graag wil nie.” (Gal. 5:17,25)

So, wat beteken dit dan om deur die Gees te lewe?

Dit is baie opvallend dat Paulus direk ná sy lys van die sondige natuur se praktyke, ʼn lys van die Gees se praktyke vir ons gee. Maar hy noem dit nie die Gees se praktyke nie… hy noem dit die vrugte van die Gees… (Gal. 5:22-23)

Hoekom nou juis vrugte?

Wat is ʼn vrug? Dit begin met ʼn saad wat geplant moet word in vrugbare grond en dan natgemaak moet word sodat dit kan wortel skiet. Die plant moet dan gereeld water kry sodat dit kan vrugte dra. In die geval van ʼn vrugteboom, moet dit reg gesnoei word om meer vrugte te kan dra.

Die vrugte van die Gees is nie deel van ons natuur nie. Anders as die dinge van die sondige natuur, moet die vrugte van die Gees in ons groei. Dit is nie sommer net daar nie!
God se Woord word in ons harte gesaai. Omdat hierdie saad die potensiaal het om honderdvoudig vrug te dra, is dit waar die vyand behoorlik inmeng. As hy nie die saad kan keer om gesaai te word nie, steel hy dit uit mense se harte uit of hy verdring dit deur al die bekommernisse, vrese en begeertes van hierdie wêreld. (Matt. 13:1-23)

Soms kom hy en saai onkruid tussen die goeie saad. Hierdie gelykenis vind ons in Matt. 13:24-30. Die oorpronklike onkruid waarvan hier gepraat word, is “Tares.” Dit lyk presies soos koring… totdat dit vrug dra.

Hierdie slegte saad kan die verdraaide Woord van God simboliseer, iets waarmee die vyand baie goed is. Hy het al in die tuin van Eden daarmee begin. Hy saai die “verkeerde” woord in mense se harte. Die mense wat hierdie onkruid laat wortelskiet en groei is moeilik om uit te ken, totdat hulle vrugte dra. (Matt. 7:15-20)

In hierdie gelykenis, van die onkruid tussen die koring, word vertel dat die vyand die onkruid gesaai het in die nag, terwyl die mense slaap. Dit is waarom ons gewaarsku word om wakker en nugter te wees. (1Pet. 5:8) Dit is terwyl Christene “slaap” dat die vyand sy kans waarneem om verdraaide weergawes van die Woord in mense se harte te saai.

Ons moet seker maak dat dit wat ons glo, wel in die Bybel staan. Ons moet alles wat ons hoor en alles wat ons lees eers aan die Bybel toets voordat ons dit toelaat om wortel te skiet in ons lewens. Ons het ook die plig om te keer dat hierdie verdraaide woorde gesaai word deur dit te ontbloot.

Geen saad gaan groei sonder water nie. Gereelde tyd saam met God in gebed, Bybelstudie en lofprysing is die manier waarop ons die saad water gee. Hierin het die vyand ook sy hand. Hy sal jou altyd probeer oortuig dat daar belangriker dinge is wat jou aandag vereis as tyd saam met God.

Waarom is hy so ywerig om te keer dat ons vrugte dra? Want, God word verheerlik deur die vrugte wat ons dra. (John. 15:8)

Die belangrikste vereiste vir vrugte dra, kry ons in Johannes 15:4-5, waar Jesus aan die woord is: “Julle moet in My bly en Ek in julle. ʼn Loot kan nie uit sy eie vrugte dra as hy nie aan die wingerdstok bly nie; en so julle ook nie as julle nie in My bly nie. Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte, want sonder My kan julle niks doen nie.”

Bly in Hom en dra vrugte.


Dit is wat dit beteken om Geestelik te wees.

Volg my op Facebook

Kontakvorm

Naam

E-pos *

Boodskap *

Gewilde plasings van hierdie blog

'n Brief aan my kind

Prysuitdeling

'n Brief aan Ma