Alles tot die eer van... myself

Waarom steel mense by mekaar? Waarom bedrieg mense mekaar? Waarom is hulle afgunstig, skinder hulle en word egbreuk gepleeg? Waarom respekteer hulle nie mekaar nie? Waarom moor hulle?

Waarom word mense kwaad vir God? Verloën hulle Hom? Vergeet hulle Hom? Ontken hulle Hom?

Want sonde kan opgesom word in een woord: Self-eer

 “Dit is my reg om in ʼn groot huis te bly, ʼn duur motor te ry en die nuutste tegnologie te hê.”
“Ek verdien hierdie bevordering want ek is baie slimmer en baie beter opgelei”
“My eie vrou laat my nie so goed oor myself voel soos daardie vrou nie.”
“Wie is jy dat ek na jou moet luister of jou gevoelens in ag moet neem? Wat kan jy vir my doen?”
“Jy het my te na gekom, jy het wat ek wil hê, so jy verdien nie om te leef nie…”

“Hoe kon God so iets met my laat gebeur?”
“Almal gaan my snaaks aankyk as ek nou bid.”
“Hierdie sportbyeenkoms is baie belangriker as om kerk toe te gaan Sondag, want ek verloor dalk my plek in die span as ek nie deelneem nie.”
“Ek het nie nou tyd om Bybelstudie te hou nie, ek is te besig.”
“God tree nie op soos wat ek wil hê Hy moet optree nie. Hy vat hopeloos te lank om my gebede te verhoor. Ek kan Hom in elk geval nie sien of hoor nie, so my gesonde verstand sê vir my Hy is nie daar nie.”

Paulus het met goeie rede gesê ons gedagtes moet nuut word (Rom 12:2, Eph 4:23).

Jesus leer ons dat die wat eerste wil wees, almal se dienaar moet wees. Dat jy jou vyande moet liefhê en vir hulle moet bid. As iemand jou dwing om sy goed ʼn kilometer ver te dra, jy dit vir hom twee kilometer ver moet dra. Vergewe sewentig maal sewe keer. Gee om vir die wat honger, dors, siek en in die tronk is en was mekaar se voete.
(Mark 9:35, Mat 5:44, Mat 5:41, Mat 18:21-22, Mat 25:35-36, Joh 13:14)

Hoekom is dit wat Hy van Sy volgelinge verwag?
Want, dit is alles dinge wat jy nooit sal kan doen as jy jou eie eer soek nie.

Dit is nogal opvallend dat die tien gebooie presies die teenoorgestelde van self-eer is. Jesus het gekom om die wet in vervulling te bring en het ook aan ons ʼn nuwe gebod gegee, liefde (Joh 13:34).

Wie is dit wat eendag gaan hoor: “Gaan weg van my af, Ek ken julle nie?” Al het hulle in Jesus se Naam gepreek en duiwels uitgedryf? Dit is díe wat nie Sy wet onderhou het nie (Mat 7:21-23). Wat is Sy wet? Presies die teenoorgestelde van self-eer. Met ander woorde; dit is díe wat alles tot hulle eie eer gedoen het.

Ek vereenvoudig die konsep eintlik baie. As ek regtig in diepte moet ingaan, sal hierdie plasing te lank wees. Daar is wonderlike beloftes vir die wat nie op self-eer ingestel is nie, maar daaroor sal ek volgende keer skryf.

So, gaan dink asseblief hieroor. Is jy regtig Sy volgeling? Bly jy regtig in Hom en Sy woorde in jou?

Pasop, die lyn tussen selfgelding en self-eer is baie dof. As jy weet wie jy in Christus is, behoort dit nie vir jou so belangrik te wees om jouself te laat geld nie.


So, wat gaan dit wees? 
Alles tot Sy eer? Of alles tot jou eer? 

Volg my op Facebook

Kontakvorm

Naam

E-pos *

Boodskap *

Gewilde plasings van hierdie blog

'n Brief aan my kind

Prysuitdeling

'n Brief aan Ma