Krag in gebed

Bid.
Dit is ʼn woord wat Christene goed ken en maklik gebruik. “Bid asseblief vir so en so.” “Ek sal vir jou bid.” “Kom ons bid saam.”

As jy in ʼn Afrikaanse, Christen huis groot geword het, was dit deel van jou grootword taal. So deel van ons taal is die woord ‘bid’ dat ons dit soms gebruik sonder om te dink en sonder om dit deur te voer.


Maar in Jakobus 5:16 (Ou Vertaling) lees ons van ʼn ander tipe bid. Dit is die vurige gebed van ʼn regverdige, wat groot krag het.

Kom laat ons eers seker maak oor die woord ‘regverdige’. As jy met vrymoedigheid die heiligdom van God kan betree omdat jy vrygespreek en skoon gewas is deur die bloed van Jesus Christus, is jy ʼn regverdige (Heb 10: 19-22, 2 Cor 5:21, Rom 5:1-2). Jy word nie ʼn regverdige deur eie werke nie (Is 64:6, Eph 2: 8-10). Jy moet berou toon, ophou sonde doen en weergebore word (John 3:3, 1 Pet 1:23).

Nou die woord ‘vurige’. Die oorspronklike Griekse woord vir ‘vurige’ in hierdie geval was ‘energeō’ wat volgens Strong dictionary die volgende beteken: to be active, efficient: - do, (be) effectual (fervent), be mighty in, shew forth self, work (effectually in).”
In plein Afrikaans beteken dit om hard te werk. Dit is dus nie ʼn aframmel lysie voor jy gaan slaap nie!

Ons as regverdiges moet vurige gebede tot God rig vir verlore siele om gered te word. Ons moet volgens God se wil bid (1 John 5:14-15) met geloof in die beloftes uit Sy woord. En, ons moet die Heilige Gees toelaat om deur ons te bid (Rom 8: 26-27). Want, ons stryd is nie teen vlees en bloed nie en die tyd raak min…

Daar is min dinge wat ons kan verander deur ons dade. Maar, die vurige gebed van ʼn regverdige het groot krag.

Hier is ‘n lys van die Bybelverse waarna ek verwys het in hierdie plasing, dit is hier aangehaal uit die Ou Vertaling, so jy mag dit dalk ook in die Nuwe Vertaling wil lees:

(Heb 10:19-22)  Terwyl ons dan, broeders, vrymoedigheid het om in die heiligdom in te gaan deur die bloed van Jesus op die nuwe en lewende weg wat Hy vir ons ingewy het deur die voorhangsel heen, dit is sy vlees, en ons ʼn groot Priester oor die huis van God het laat ons toetree met ʼn waaragtige hart in volle geloofsversekerdheid, die harte deur besprenkeling gereinig van ʼn slegte gewete en die liggaam gewas met rein water.

(2Kor 5:21)  Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.

(Rom 5:1-2)  Omdat ons dan uit die geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur onse Here Jesus Christus; deur wie ons ook deur die geloof die toegang verkry het tot hierdie genade waarin ons staan; en ons roem in die hoop op die heerlikheid van God.

(Jes 64:6)  En ons het almal geword soos ʼn onreine, en al ons geregtighede soos ʼn besoedelde kleed; en ons het almal verdor soos blare, en ons ongeregtighede het ons weggevoer soos die wind.

(Eph 2:8-9)  Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.

(Joh 3:3)  Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.

(1Pet 1:23)  want julle is wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur die lewende woord van God wat tot in ewigheid bly.

(1Joh 5:14-15)  En dit is die vrymoedigheid wat ons teenoor Hom het, dat Hy ons verhoor as ons iets vra volgens sy wil. En as ons weet dat Hy ons verhoor, dan weet ons dat, wat ons ook al vra, ons die bedes verkry wat ons van Hom gevra het.

(Rom 8:26-27)  En net so kom ook die Gees ons swakhede te hulp, want ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge. En Hy wat die harte deursoek, weet wat die bedoeling van die Gees is, omdat Hy ooreenkomstig die wil van God vir die heiliges intree.


Volg my op Facebook

Kontakvorm

Naam

E-pos *

Boodskap *

Gewilde plasings van hierdie blog

'n Brief aan my kind

Prysuitdeling

'n Brief aan Ma