'n Uitdaging

Ja, daar is slegte nuus.

Ek het nie nodig om jou in te lig nie. Lees die koerante…

Groot ekonomiese probleme. Moordenaars. Terroriste. Bedrieërs. Onregverdige besluite. Bespotting. Afpersing.

Wag, ek weet jy wil sommer nou ophou lees. Maar hierdie is nie ʼn “O! Help ons tog! Wat gaan van ons word?” blog nie. Nee, ek wil jou uitdaag om anders, as die mense om jou, na alles te kyk…

Jy sien, die meeste mense kyk na die wêreld sonder God. Dit is wanneer jy moedeloos word.

Gaan lees ʼn bietjie die verhaal van Nehemia in die Bybel. Hy het ook slegte nuus gehoor. Nuus wat hom so ontstel het, dat hy vir vier maande daaroor getreur het. Maar hy het nie net getreur nie, hy het gebid ook en terselfdertyd begin planne maak om die situasie om te keer. Sodat, toe die geleentheid oor sy pad kom, hy gereed was om aksie te neem. Onder sy strategiese leierskap is daar begin om die mure van Jerusalem te herbou. Dit was glad nie ʼn maklike taak nie, want, raai waarmee moes hulle alles opgeskeep sit? Bespotting, terroriste en bedrieërs. En, asof dit nie genoeg was nie, is Nehemia gedurig afgepers en geïntimideer. Maar, hy het nie toegelaat dat enige iets hom van sy Goddelike taak laat afsien nie en binne twee maande, in die somerhitte van Israel, is die mure herbou. Nou moes selfs Israel se vyande in verbasing hulle koppe skud en erken dat God met Nehemia was. Nehemia het dit natuurlik lankal geweet. Dit is waarom hy in die eerste plek die moed gehad het om hierdie taak aan te pak. Vir ander het dit soos ʼn onmoontlike situasie gelyk. Maar as jy saam met God na slegte nuus kyk, raak jy nie moedeloos soos die mense om jou nie.

Daar is ʼn plan. ʼn Goddelike plan waarvan ons deel is. Daar is ook ʼn Koninkryk. ʼn Koningryk waarvan jy deel word as jy weer gebore word in die Gees. Die Bybel is so vol van beloftes vir hierdie Koningryk-kinders van God dat as jy dit lees, jy vinnig besef jy bevind jou hier in ʼn ander plek as die plek waarin die wêreld leef.

As jy in hierdie Koningryk leef, beweeg jy op alle gebiede net hoopvol vorentoe.

Maar, as jy nie die beloftes ken nie, of dit nog nooit gelees het nie, gaan jy nie daarvan weet nie en gaan jy moedeloos raak saam met almal wat nie Koninkryk-kinders is nie.

Gilbert Beeken het gesê: “Ander verwag ʼn hopelose einde. Maar die wat in God glo, het eindelose hoop.”

Nou is ek weer by die uitdaging. Gaan soek ʼn bietjie ʼn paar beloftes uit die Bybel en bêre dit in jou hart. Kyk dan saam met God na die wêreld en wees sout en lig. Wees Jesus se hande en voete. Gee hoop aan moedelose mense.

Slegte nuus is niks nuuts nie. Dit is so oud soos die sondeval. Maar deur die eeue heen was daar altyd nog die mense wat hulle nie deur slegte nuus laat stop het nie. Soos Joshua en Kaleb wat God se beloftes geken en geglo het. Die mense wat moedeloos geraak het oor die slegte nuus, is die beloofde land kwyt. Maar Joshua en Kaleb het dit binne gegaan.


Hou vas aan die beloftes uit die Woord. Moenie moedeloos raak nie. Nou-nou mis jy ook jou beloofde land.

Volg my op Facebook

Kontakvorm

Naam

E-pos *

Boodskap *

Gewilde plasings van hierdie blog

'n Brief aan my kind

Prysuitdeling

'n Brief aan Ma