Hoe oud is jy?

Ek het onlangs ʼn interessante vraag gelees: “How old would you be, if you didn’t know how old you are?”

As jy nie ʼn idee gehad het in watter jaar jy gebore is nie en daar was niemand om vir jou te sê hoeveel verjaardae jy al gehad het nie. Hoe oud sou jy gedink het, is jy?
Dit is ʼn goeie vraag. Ek dink ek sou onmiddellik geantwoord het ek is so pas een en twintig. Want, dit is hoe ek voel.

Diep binne in elkeen se hart is ʼn jongmens, dalk selfs ʼn kind. Iemand wat soms groot skrik as hulle in die spieël kyk. Is daardie grys hare myne? En die dubbelken? Watse lyne is om my oë? Plooie? Wanneer het dit verskyn? Ek skrik selfs partykeer as ek ou skoolvriende raakloop. Veral as ek hulle laas nog in ʼn skooluniform gesien het! En dan wonder ek of hulle ook skrik.

My pa sê altyd jy is so oud soos wat jy voel. Ek sal daarop staan. My oumagrootjie het drie en negentig jaar oud geword. Sy het skottelgoed gewas en beskuit gebak tot op die einde toe en jy moes nie eens aanbied om dit vir haar te doen nie. “As ek stil sit gaan ek oud word en doodgaan” was haar verweer. Ek onthou nog hoe ek grootoog gesit en luister het na stories oor haar kinderdae. In verwondering het ek besef, hier sit ʼn hele lewe voor my…

Niemand wil oud word nie. Maar ons kan dit nie keer nie. Dit is een van daardie dinge in die lewe wat gaan gebeur. Ons moet oefen en gesond eet en wegbly van alles wat sleg is vir ons liggame. Dit weet ons almal, want, almal van ons het een of ander tyd al gehoor hulle sê: “Jy het nie beheer oor oud word nie, maar jy het beheer oor hóé jy oud word.”

Ek dink egter dit stop nie daar nie. Partykeer gebeur dinge in jou lewe wat jou skielik ook jonger kan laat voel. Soos die vrou wat op veertig vir die eerste keer ma word. Of die man wat ʼn totale loopbaan skuif maak op vyftig. Dalk besluit iemand om op sestig verder te studeer.

Ek het gelees van ʼn vyf en negentig jarige vrou, Nola Ochs, wat by Fort Hays State Universiteit gegradueer het. En, dokter Leila Denmark, wat die oudste praktiserende dokter was. Met haar aftrede in Mei, 2001 was sy honderd en drie jaar oud en het nog tot op honderd en veertien jaar geleef. Gladys Burril het die Guinness Book of World Records gehaal as die oudste persoon ooit om die Comrades Marathon te voltooi, sy was twee en negentig jaar oud.

Hoe het hierdie mense dit reggekry? Dalk het hulle besluit om te vergeet hoe oud hulle regtig is en te leef so oud soos wat hulle voel…

As jy leef so oud soos wat jy voel, is oud word dalk glad nie so erg nie. Ek dink ʼn mens is oor die muur as jy ophou droom en ophou hoop.

Solank jy nog asemhaal is daar ʼn rede vir jou lewe.

God gebruik jou nog.


Jy kan maar net sowel die beste daarvan maak...

Volg my op Facebook

Kontakvorm

Naam

E-pos *

Boodskap *

Gewilde plasings van hierdie blog

'n Brief aan my kind

Prysuitdeling

'n Brief aan Ma